Local sportSport

Pierre Schoeman verruil Loftus Versfeld vir Skotland

Die Bulls se jong losskopstut en gewese Junior Springbok, Pierre Schoeman, gaan in Junie vanjaar by die Edinburgh klub in Skotland aansluit en dit lyk of hy langtermyn planne in dié land het.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het Donderdag middag amptelik bevestig dat die opkomende ster en loskopstut Pierre Schoeman, besluit het om sy rugbyloopbaan ná vanjaar se SuperRugby toernooi in Skotland voort te sit.

Schoeman is ‘n gewese SA Skole kaptein, terwyl hy ook in 2014 vir die Junior Springbokke by die IRB se junior wêreldbeker toernooi uitgedraf het.

Weens sy uitstaande leierseienskappe en sy besonder gewilde persoonlikheid is Schoeman gesien as ‘n baie belangrike deel van John Mitchell se toekomsplanne, nie net weens sy vermoë as speler nie, maar ook weens die groot rol wat hy speel om die gees en samehorigheid in die nuwe Bulls span op te bou en te versterk. Dit maak sy besluit om die Bulls te verlaat ‘n baie groot terugslag vir dié span.

Dié bonkige jong stut het verlede jaar tydens die Blou Bulle se jaarlikse toekenningsfunksie met twee spelers-toekennings én twee meriete toekennings van verskillende borge van die span weggestap. Hy is onder andere aangewys as die speler wat die meeste vordering getoon het in die SuperRugby toernooi, terwyl hy ook as voorspeler van die jaar tydens die Curriebeker seisoen aangewys is.

Hoewel dit nie reguit in die BBM se verklaring uitgespel word nie, kan daar tog uit die bewoording daarvan afgelei word dat Schoeman se skuif na die Edinburgh klub in Skotland gedoen word met die oog daarop om oor ‘n paar jaar te kan kwalifiseer om vir Skotland te speel. Daar word in die verklaring genoem dat Schoeman ‘n “sterk gedrewe jong man is met ‘n besliste begeerte om internasionale rugby te speel…”

Nadat Schoeman sy land op skole- en o.20 vlak verteenwoordig het en tans ‘n uitblinker in die Bulls se nuwe span onder John Mitchell se afrigting is, sal daar beslis vrae gevra word oor die redes agter sy besluit. Hoewel geld waarskynlik ‘n rol speel (hy sal in Britse pond betaal word in Skotland) moet daar ook aanvaar word dat Schoeman waarskynlk die boodskap gekry het dat SA Rugby nie op die langer termyn belangstel om dit vir hom die moeite werd te maak om in Suid-Afrika te bly nie.

Die enigste rede hiervoor setel waarskynlik in Suid-Afrikaanse rugby se polities-gedrewe toekomsvisie, aangesien Schoeman andersinds oor al die kwaliteite beskik om ‘n puik Springbok te kon wees.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button