Tuks steeds onoorwonne, Naka kry hul neuse voor in Gouebeker stryd
Tukkies is steeds onoorwonne in die Superliga én Carltonbeker-wedloop, terwyl Naka Bulle nou die voorloper is in die stryd om vanjaar as die Blou Bulle se verteenwoordiger in die Gouebeker-liga te kwalifiseer.
Die nuwe Superklub-liga, waarby die Carltonbeker-liga ingekorporeer is, bereik eerskomende naweek sy halfpadmerk.
Op hierdie stadium lyk dit of die stryd om die Carltonbeker waarskynlik ’n wedloop tussen twee kandidate gaan word, nadat ABE Midas Naka Bulle die afgelope naweek redelik maklik met die verdedigende kampioen, Quins-Bobbies, afgereken het.
Ná hierdie oorwinning van ABE Midas Naka Bulle sal alle oë van klubrugby-geesdriftiges wees op die wedstryd tussen die manne van die Moot en Rustenburg Impala, wat op 21 April gespeel word. As ABE Midas Naka Bulle daarin kan slaag om Impala ook te klop, sal hulle waarskynlik in die tweede ronde in ’n verbete stryd met Tuks gewikkel wees om as Carltonbeker-kampioen gekroon te word.
Impala is vanjaar slegs deel van die Superliga en nie, soos verlede jaar, ook deel van die Carltonbeker-toernooi nie. Daar sal vanjaar ook geen eindstryd plaasvind om die Carltonbeker-kampioen te bepaal nie. Die Carltonbeker-span wat die hoogste op die Superliga punteleer eindig, sal as Carltonbeker-kampioen aangewys word.
ABE Midas Naka Bulle moet na dese waarskynlik ook die gunsteling wees om vanjaar te kwalifiseer as die Blou Bulle se verteenwoordiger in die nasionale Goueliga-kampioenskap wat landwyd tussen beslis word tussen klubs wat nie aan ’n tersiêre instelling verbonde is nie.
Intussen oorheers die Carltonbeker-klubs steeds die Superliga, hoewel dit blyk dat ten minste twee van die klubs uit die geledere van die Valke aan die Oos-Rand baie beter presteer wanneer hulle op hul tuisvelde speel as wanneer hulle na Pretoria moet reis. East Rand United (ERU) van Reigerpark in Boksburg het dié stelling bewys toe hulle die afgelope naweek verras het deur Centurion met 29-19 op hul tuisveld in Reigerpark te klop en daarmee die eerste Valke-klub geword het om ’n klub van die Blou Bulle in die toernooi ore aan te sit.
ERU het ’n bonuspunt-oorwinning behaal nadat hulle vier drieë teen Centurion se twee gedruk het. Dít volg nadat dié klub verlede week ook vir ABE Midas Naka Bulle goed skrikgemaak het op hul tuisveld, wat glo in Reigerpak as “Die Begraafplaas” bekendstaan. Laasgenoemde het net-net daarin geslaag om die Boksburgers se aanslag af te weer.
* Hoewel Springs nog nie ’n wedstryd kon wen nie het dié span uit die Valke-geledere Saterdag weer gewys dat hulle waardige deelnemers in die Superliga is. Dié Oos-Randers is deur Tuks met 50-35 geklop, maar Springs het hul man gestaan en self ses keer gaan druk teenoor Tuks se agt drieë.
As Springs se skopwerk pale toe beter was (hulle kon slegs een drie verdoel) sou die telbord selfs nog beter vir hulle gelyk het. Dié klub kon nog nie ’n wedstryd in die Superliga wen nie, maar hulle het ’n goeie kans om in die tweede ronde baie beter te vaar. Hulle het tans nog net een keer op hul tuisveld gespeel en in daardie wedstryd het hulle goed gekompeteer teen Impala. Springs sal dus in die tweede ronde die meerderheid van hul wedstryd tuis speel, wat ’n groot verskil in hul veldtog kan maak.
* Saterdag se stryd in die Moot op ABE Midas Naka Bulle se tuisveld was ’n gebeurtenis wat byna aan die goeie ou dae van klubrugby herinner het, aangesien daar vooraf heelwat belangstelling in die wedstryd was.
Hoewel QBR goed begin het en vroeg in die wedstryd reeds voorgeloop het, was ABE Midas Naka Bulle se oorheersing voorlangs uiteindelik die faktor wat die skaal in hulle guns begin swaai het. Teen rustyd was die manne van Groenkloof nog in die wedloop met die telling op 21-11 in ABE Midas Naka Bulle se guns. Dinge het egter eensydig geraak in die tweede helfte en toe die tuisspan eers op dreef kom, het die drieë ook gevolg. Hulle het uiteindelik agt keer agter die doellyn gaan kuier teen QBR se twee drieë.
* Brakpan is op hierdie stadium waarskynlik die een klub wat sukkel om die mas op te kom in die Superliga en hulle het die afgelope Saterdag weer behoorlik slae gekry toe Impala hulle met 75-14 geklop het. Brakpan het ook reeds die helfte van hul wedstryde tuis gespeel, maar kon nog geen ligapunte insamel nie.
Daarenteen het Impala nog net teen Tuks verloor en soos reeds genoem is hulle nog stewig in die wedloop vir die Superliga- sowel as die Carltonbeker-titels.
https://www.facebook.com/nakabullsrugbyclub/videos/792868297585210/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:







