Suid-Afrika se beste stoeiers in aksie in Pretoria
Die room van Suid-Afrika se provinsiale stoeiers was die afgelope naweek in Pretoria om deel te neem aan die Nasionale Presidente-kampioenskap.

Meer as 200 stoeiers uit 11 provinsiale unies het die afgelope naweek na Pretoria opgeruk om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie se nasionale Presidente-kampioenskap.
Die kampioenskap het oor twee dae by die Noord-Gauteng Stoeifederasie se hoofkwartier in Menlopark plaasgevind.
Dié prestigeryke toernooi is een van die hoogtepunte op die jaarlikse stoeikalender en wenners van elke gewigsafdeling kan spog met die titel as Suid-Afrikaanse kampioen.
Stoeiers het ook in provinsiale spanverband deelgeneem en die kampioenskap het ‘n spankompetisie ingesluit.
Noord-Gauteng Stoei het oudergewoonte puik presteer en die spankompetisie oorheers.
Op die eerste dag van die kampioenskap is daar gekonsentreer op die kompetisie in die Grieks-Romeinse styl, terwyl die dameskompetisie op dieselfde dag afgehandel is. Dié styl lok gewoonlik minder deelnemers en vanjaar het 89 stoeiers sake in die Grieks-Romeinse styl uitgespook.
Saterdag was die Noord-Gauteng stoeisaal ‘n miernes van bedrywighede toe die Vrystyl afdeling afgehandel is. Meer as 200 stoeiers het vir dié kompetisie ingeskryf, terwyl honderde afrigters, beamptes en toeskouers ook vir ‘n stampvol saal gesorg het. Stoeigevegte is tegelyk op vier matte aangebied.
Deelnemers het gewissel vanaf jong voorskoolse juniors tot by meesters.
Toeskouers het aan die einde van die kampioenskap ook ‘n bonus geniet toe Suid-Afrika se dubbele wêreldkampioen en meesterstoeier, Willem Putter, aan ‘n vriendskaplike vertoonwedstryd deelgeneem het. Putter is ‘n legende in stoeikringe reg oor die wêreld en vir die jonger stoeiers was dit iets besonders om hom in aksie te kon sien.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




