Pierre Schoeman se skorsing van ses weke ‘n reuse terugslag vir die Bulls
Pierre Schoeman, loskopstut van die Bulls, se skorsing van ses weke weens ‘n byt-voorval teen die Rebels is op meer as een manier ‘n harde slag vir die Bulls.
Die Bulls se kookwater loskopstut, Pierre Schoeman, is vir ses weke uit alle rugby geskors, nadat hy Maandag deur ’n tugkomitee van SANZAAR daaraan skuldig bevind is dat hy ’n speler van die Rebels in die afgelope naweek se SupeRugby-wedstryd gebyt het.
Hoewel Schoeman nie tydens die wedstryd aan enige vuilspel skuldig bevind is nie, is hy agterna deur ’n beampte van SANZAAR uitgewys vir die oortreding, wat tot Maandag se verhoor gelei het. Die Rebels-losvoorspeler, Richard Hardwick, was glo Schoeman se slagoffer.
Schoeman is daaraan skuldig bevind dat hy reël 9:12 oortree het. Dié reël verwys na enige fisieke aanval van ’n speler op ’n teenstander.
Die verhoor is deur adv. Adam Casselden en twee oud-spelers, Eroni Clarke en De Wet Barry, waargeneem. Schoeman het glo onmiddellik skuldig gepleit op die aanklag teen hom.
Hoewel hy ’n moontlike skorsing van 12 weke in die oë gestaar het, was daar versagtende omstandighede soos sy skoon rekord, goeie karakter en die feit dat hy skuldig gepleit het op die aanklag, wat bygedra het tot die ligter vonnis van slegs ses weke.
Hierdie skorsing is ’n reuse slag vir die Bulls. Behalwe vir die feit dat Schoeman tans op skitterende vorm is en een van die staatmakers in John Mitchell se span is, is daar ook ander aspekte van sy teenwoordigheid in die span wat tans krities belangrik is vir die Bulls.
Schoeman, ’n voormalige SA Skole en Bloubul o.21-kaptein, is ook ’n sterk leiersfiguur in die span, terwyl sy besonder gewilde persoonlikheid tans goud werd is vir die Bulls, wat in ’n sensitiewe fase is om die SupeRugby groep se kohesie te versterk en spangees te bou.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
