Lima Sopoaga breek Bulls se harte op Loftus
Ten spyte van die feit dat die Bulls vier drieë kon druk teen die besoekende Highlanders se twee, het Lima Sopoaga se skopvoet aan die manne van Duneden ‘n naelskraapse oorwinning besorg in ‘n SuperRugby wedstryd op Loftus Versfeld.
Die Highlanders se All Black losskakel, Lima Sopoaga, het Bulls ondersteuners se harte gebreek toe hy Saterdagaand die wenpunte vir sy span met ‘n strafdoel ná amptelike speeltyd van die SuperRugby wedstryd tussen dié twee spanne op Loftus Versfeld aangeteken het.
Die Bulls het kort voor dié skop hul vierde drie gaan druk om verby die Highlanders te skuif op die telbord, maar ‘n strafdoel in die doodsnikke van die wedstryd het die Pretorianers se pret bederf.
Hoewel die Bulls vier keer gaan druk het teen die twee drieë van die Nieu-Seelanders, het Sopoaga sy span in die prentjie gehou met sy skopvoet en die wenskop was sy vyfde suksesvolle strafdoel in die wedstryd.
Nadat skrumskakel Aaron Smith die Bulls baie vroeg in die wedstryd aan die slaap gevang het met ‘n vinninge beweging wat uitgeloop het op sy drie, het die tuisspan effens ontsenu gelyk.
Dit het hulle 20 minute geneem om uiteindelik die doellyn te haal en die telling weer gelyk te maak. Die tuisspan het egter ’n frustrerende tydperk beleef ná Smith se drie. Hulle het verskeie kanse vir hulself geskep wanneer hulle die gevaarsone naby die doellyn bereik het, maar het dan telkens die bal verloor of besit afgestaan weens oortredings by die afbreekpunte.
Halfpad deur die eerste helfte het sake egter stadig maar seker beter begin verloop en toe die Bulls op ‘n stadium weer deurbreek en Jesse Kriel ‘n perfekte rolskoppie vir Warrick Gelant deurskop, was ‘n seker drie op die agenda. Die Highlanders se heelagter, Fletcher Smith, het Gelant egter op blatante wyse teruggehou toe hy hom aan die trui beetkry het en sodoende is die Bulls se ster heelagter verhoed om te druk.
Skeidsregter Glen Jackson het die petalje gelukkig gesien en sonder om ‘n oomblik te aarsel het hy ‘n strafdrie aan die Bulls toegeken.
Daarna het Burger Odendaal en sy troepe met meer selfvertroue begin speel. Hulle het die vaste fasette heeltelmal oorheers en ook daarin geslaag om die manne van Duneden se gevaarlike agterlyn gereeld op die voordeellyn te smoor.
Die Bulls se tweede drie het gekom toe Handré Pollard ‘n aangee van die Highlanders op die middellyn onderskep het en regdeur kon nael sonder dat ‘n hand op hom gelê is.
Teen rustyd was die manne in Blou met 14-10 voor, maar harde werk sou nog vir hulle voorlê om die Nieu-Seelanders onverrigter sake uit Pretoria weg te stuur.
Die baie kanse wat die Bulls verbrou het in die eerste helfte het sommer vroeg in die tweede helfte vinnig ‘n krisis situasie vir hulle geslkep toe die besoekers in die eerste vyf minute van dié skof tien punte aangeteken het via ‘n strafodoel en ‘n langafstand drie deur Fletcher.
Hoewel die Bulls kon terugveg en ná drieë deur Jason Jenkins en Jesse Kriel daarin kon slaag om weer die voortou te neem op die telbord, het Sopoage se skopskoen die laaste sê gehad in die wedstryd.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 28 Drieë: Strafdrie, Handré Pollard, Jason Jenkins, Jesse Kriel. Doelskoppe: Handré Pollard (3).
HIGHLANDERS: 29 Drieë: Aaron Smith, Fletcher Smith. Doelskoppe: Lima Sopoaga (2). Strafdoele: Lima Sopoaga (5)
Skeidsregter: Glen Jackson
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





