Bulls veg hard om Sharks op Loftus te oorrompel
Die Bulls is op pad terug na ‘n plek tussen die top agt spanne op die SuperRugby punteleer, nadat hulle die Sharks in ‘n klipharde, maar opwindende wedstryd op Loftus Versfeld geklop het.
Die Bulls moes baie hard werk om die Sharks Saterdagaand op Loftus Versfeld in ‘n genadelose stryd te klop, maar hulle het uiteindelik welverdiend met 39-33 gewen.
Die oorwinning was welverdiend, nadat die tuisspan daarin kon slaag om vyf keer die doellyn te haal, teenoor die Natallers se drie drieë.
Die wedstryd het van die afskop af wiplank gery ten opsigte van gebiedsvoordeel en balbesit en albei spanne het met positiewe aanvallende spel dadelik gewys dat die toeskouers hulle kon regmaak vir ‘n skouspel.
Die Sharks het eerste oor die doellyn gekom toe Curwin Bosch ‘n beweging afgerond het wat in hul eie gebied begin is. Ongelukkig vir die manne van Durban is dié drie nie toegeken nie, aangesien die einste Bosch ‘n Bulls speler gepootjie het in die beweging net voor besit omgekeer is.
Uiteindelik sou dié blaps van Bosch sy span baie duur te staan kom, want in plaas van punte vir sy eie span het die Bulls van die daaropvolgende lynstaan gaan druk. Warrick Gelant is oor die doellyn, nadat hy ‘n rolskop van Jesse Kriel opgevolg het.
Dié drie het die Bulls met nuwe ywer laat aanval en vier minute later is Jesse Kriel soos ‘n warm mes deur botter deur ‘n gaping, nadat hy goeie visie getoon het toe hy besef dat ‘n paar vaste voorspelers voor hom in die Sharks se verdedigingslinie beland het.
Kort na Bosch se terugkeer uit die koelkas het hy vergoed vir sy blaps deur onder die pale te druk toe hy naby ‘n losskrum deurgeglip het.
Die tuisspan het wéér byna onmiddelik teruggeslaan en ná goeie spel deur Travis Ismaiel, waardeur hy die bal mooi lewendig kon hou nadat hy kort voor die doellyn platgetrek is, het Roelof Smit afgerond in die regterkantste hoek.
‘n Geelkaart aan RG Snyman kort voor rustyd het aan die Sharks die geleentheid gebied om lyn toe te skop en vanaf die daaropvolgende lynstaan het Jacques Vermeuelen die vyfde drie in die eerste helfte gaan druk.
Robert du Preez en Bosch se dodelik akkurate skopskoene het hul span ook in die wedstyrd gehou en hul nege punte kort voor en kort na rustyd het die besoekers laat byhou op die telbord.
Na rustyd het die besoekers verwoed ingeklim en hul intensiteit dramaties verhoog. Dit het tot gevolg gehad dat die Bulls kop moes hou op die verdediging. Dít het hulle puik gedoen, tot só ‘n mate dat die Sharks se derde en laaste drie eers in die doodsnikke van die wedstryd gekom het. Dié drie het egter die Bulls se kans op ‘n bonuspunt verongeluk, wat later in die seisoen nog swaar teen hulle kan tel.
Nadat Burger Odendaal en sy manne vir die grootste deel van die derde kwart moes walgooi, het hulle weer momentum begin opbou en twee drieë in die laaste twintig minute deur Johnny Kotze en Lood de Jager het die wedstryd in hul guns geswaai.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 39 Drieë: Warrick Gelant, Jesse Kriel, Roelof Smit, Johnny Kotze, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Handré Pollard (2).
SHARKS: 33 Drieë: Curwin Bosch, Jacques Vermeulen, Jean-Luc du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (3). Strafdoele: Curwin Bosch (1) Robert du Preez (3)
Skeidsregter: Rasta Rashivenge
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






