Menlopark is algehele wenners van Tuks-reeks
Die Hoërskool Menlopark het vanjaar die algehele kompetisie van die Tuks-reeks gewen en daardeur sommige van die beste sportskole in Suid-Afrika uitgestof.
Hoewel Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan op hartverskeurende wyse in die doodsnikke met twee punte teen Hoërskool Monument verloor het in hul Tuks-reeks eindstryd, was daar met die finale berekening van die punte vir al die sportsoorte goeie nuus vir dié skool.
Menlopark is aangewys as algehele wenners van die Tuks-reeks. In dié reeks kompeteer 11 top skole uit vier verskillende provinsies noord van die Vaalrivier teen mekaar in sogenaamde groot sportsoorte soos rugby, hokkie (seuns en meisies) en netbal, asook ’n aantal kleiner sportsoorte soos tennis, landloop en muurbal.
’n Totaal van 26 spanne van Menlo was betrokke by die eindstryde in die groter sportsoorte.
Die hokkiespanne het hier die beste presteer met hul 12 spanne wat uiteindelik agt goue-, drie silwer-, en een bronsmedalje kon verower. Hierdie uitslae het tot gevolg gehad dat die Parkies as die beste hokkieskool (seuns en meisies) in die reeks aangewys is.
Menlo se rugbyspanne het ook puik presteer. Die o.14A-, o.15A- en o.15B-spanne het goud gewen, terwyl die o.16A-span en die eerste span albei silwer verower het, nadat hulle in hul onderskeie eindstryde beide teen Monnas verloor het.
In die rugby-afdeling het Menlopark uiteindelik tweede geëindig ná Monument.
Ook in die netbal-afdeling is Menlopark as die beste skool in die reeks aangewys.
Selfs in die kleiner sportsoorte het Menlopark presteer. Die skool het as wenners van die landloop- en tenniskompetisies uit die stryd getree, terwyl die muurbalspan ’n tweede plek behaal het.
Byna 700 van Menlo se leerlinge was betrokke by die TUKS-reeks.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

