Plaaslike stoeier presteer in Marocco
‘n Plaaslike stoeier van Noord-Gauteng was een van die Suid-Afrikaanse medaljewenners by ‘n internasionale sport skouspel wat onlangs in Marokko in Noord-Afrika plaasgevind het.

Xander MacGregor van Pretoria was een van drie Suid-Afrikaners wat medaljes kon verower by die onlangse geskiedkundige Wêreld Gymnasiade in Marokko.
Hierdie internasionale multi-sport byeenkoms vir jong sportmanne op skole-vlak was die eerste van sy soort in die geskiedenis en meer as 3000 deelnemers uit 58 lande was deel van die aksie.
Die byeenkoms is aangebied deur die Internasionale Sport Federasie (ISF) wat ook erken word deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOC).
Deelnemers en hul bestuur het, net soos in die geval van groot sportgeleenthede soos die Olimpiese Spele, in ‘n spesiaal ingerigte “atlete dorp” tuisgegaan, waar hulle ook aan ander vermaak kon deelneem in hul vrye tyd.
Suid-Afrika se stoeispan, wat uit 13 seuns en twee meisies bestaan het, het twee silwer- en een bronsmedalje gewen. MacGregor was die wenner van die bronsmedalje.
Fernando Booysen (Oos-Gauteng) en Steyn de Lange (Limpopo) het silwer medaljes huis toe gebring.
Twaalf lande was deel van die stoeikompetisie by die byeenkoms. Die Suid-Afrikaanse span het tweede geëindig in die Vrystyl afdeling en negende in die Grieks-Romeinse afdeling, terwyl die twee Suid-Afrikaanse meisies ook negende was in die spankompetisie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
