Gemengde sukses vir Bloubul-klubspanne in Superliga
Na die eerste rugbywedstryde in die tweede ronde van die Superklubliga lyk dit of die vier top spanne op die punteleer besig is om hulself te vestig as halfeindstrydkandidate.
Drie van die Blou Bulle se Carltonliga-spanne was die afgelope naweek in aksie in die interprovinsiale Superliga.
In hierdie drie wedstryde kon Tuks en Quins-Bobbies (QBR) goeie oorwinnings behaal, terwyl Centurion in ”n moeilike wegwedstryd vasgeval het.
* Tuks het ’n groot aanslag van East Rand United op laasgenoemde se berugte tuisveld in Rygerpark, Boksburg – ook bekend as ‘Die Begraafplaas’ – redelik maklik afgeweer om met 38-11 te wen. Nico Luus se manne het ses drieë gedruk, terwyl hul teenstanders van die Oos-Rand slegs een keer die doellyn kon haal.
Die studente het met hierdie bonuspunt-oorwinning hul onoorwonne status behou en is steeds stewig in die eerste plek op die punteleer.
* QBR het voortgebou op hul puik vorm van die afgelope paar weke deur Springs in ’n wegwedstryd met 69-38 te klop. In die proses het QBR 11 drieë ingeryg.
Springs het nooit gaan lê nie en dié onderskatte span van die Oos-Rand het self ses drieë gedruk in dié opwindende wedstryd, wat uiteindelik meer as ’n honderd punte opgelewer het.
Met hierdie oorwinning het QBR die gaping tussen hulself en Centurion op die Superliga-punteleer verder vergroot en laasgenoemde sal nou waarskynlik al hul oorblywende wedstryde moet wen as hulle nog ’n kans wil staan om onder die top-vier spanne te eindig.
* Centurion was juis aan die ontvangkant van ’n omgekrapte Impala-span, wat goed teruggebons het ná hul onlangse nederlaag teen QBR.
Impala het Centurion tydens een van SA Rugby se rugbyfeeste, wat ook twee wedstryde in die SuperSport Challenge toernooi ingesluit het, in Rustenburg met 42-28 geklop.
Die manne van Noordwes het ’n bonuspunt-oorwinning behaal deur ses drieë te druk, terwyl Centurion slegs drie keer oor die doellyn kon kom.
* Brakpan, wat in die eerste ronde van die Superliga nie ’n enkele wedstryd kon wen nie, het intussen onttrek uit die toernooi en sal nie in die tweede ronde speel nie. Om hierdie rede het ABE Midas Naka Bulle die afgelope naweek in ’n vriendskaplike wedstryd teen ’n uitnodigingspan van die Blou Bulle gespeel.
Dié wedstryd het inderdaad gewys dat die gaping tussen klubrugby en professionele spelers op die vlak net onder SupeRugby kleiner is as wat sommige rolspelers sou wou erken.
ABE Midas Naka Bulle het in dié wedstyrd teen rustyd nog met 7-0 voorgeloop. Uiteindelik het die Blou Bulle met 28-14 gewen, maar die manne van die Moot het nooit vir hulle teruggestaan nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
