Naka Bulle en QBR verstewig hul Superliga posisies
Terwyl die rugbyklubs wat vir die nuwe Superliga se halfeindrondte gaan kwalifiseer mekaar tans uitsorteer, is daar onder die Bloubul klubs ook nog ‘n groot stryd aan die gang om as vanjaar se Carltonbeker kampioen gekroon te word.
Terwyl Quins-Bobbies (QBR) die afgelope naweek hul posisie op die Super Klubliga punteleer verder verstewig het met nóg ‘n bonuspunt oorwinning, lyk Centurion se kanse al hoe skraler om dié liga se halfeindrondte te haal.
ABE Midas Naka Bulle het hul posisie in beide die Super klubliga en die Carltonbeker toernooi verstewig en hul kanse lyk al hoe beter om later vanjaar die Blou Bulle se verteenwoordiger by die nasionale Gouebeker toernooi te wees.
* Centurion het ABE Midas Naka Bulle baie hard laat werk vir hul oorwinning van 38-22 in dié klubs se tweestryd op laasgenoemde se tuisveld in die Moot.
Riaan Brand se manne het beslis Moot toe gereis om hul veldtog te red en hulle het vir groot dele van die wedstryd gebiedsvoordeel en balbesit oorheers.
ABE Midas Naka Bulle het egter daarin geslaag om hul kanse beter te benut. Dit het hulle in staat gestel om teen rustyd reeds die bonuspunt in die sakkie te hê met vier drieë en ‘n voorsprong van 24-5.
Net voor rustyd het Centurion egter ‘n groot terugslag beleef toe hul woelige agtsteman Gilbert Chalmers met ‘n rooi kaart gestraf is ná ‘n boorvat op ‘n teenstander. Omdat die slagoffer op sy kop en nek geland het, het die skeidsregter geen ander keuse gehad as om dié maksimum sanksie toe te pas nie.
Centurion het die tweede helfte met verwoede aanvallende rugby begin en selfs eerste punte aangeteken. Toe die tuisspan op ‘n stadium vroeg in die tweede helfte twee voorspelers binne ‘n minuut met geelkaarte verloor, wou dit selfs lyk of Centurion kon terugkom in die wedstryd.
Sylvester Booysen kon met puik leierskap egter daarin slaag om sy manne kalm en gefokus te hou en hulle het nog twee keer gaan druk om die gaping op die telbord tot 28 punte te rek.
Die besoekers uit die suide het nooit gaan lê nie en met ‘n vasbyt vertoning kon hulle daarin slaag om teen die einde van die wedstryd nog twee keer te druk vir ‘n welverdiende bonuspunt.
* QBR het hul posisie verstewig met ‘n bonuspunt oorwinning van 38-32 teen die gevaarlike span van East Rand United (ERU) van Reigerpark in Boksburg.
Die Oos-Randers is waarskynlik die Valke se beste span in die liga en hulle is baie kompeterend op hul tuisveld in Reigerpark. Hulle het Centurion ‘n paar weke gelede verras, nadat hulle ABE Midas Naka Bulle ook vroeër goed skrikgemaak het.
QBR kon vyf drieë druk teen die tuisspan se vier en die rustyd telling van 21-17 in QBR se guns getuig ook daarvan dat dié wedstryd, wat tot die einde in die weegskaal was, besonder taai verloop het.
Gert Mulder en Johan Kluyts kan dus baie tevrede wees met hul oorwinning en die vyf waardevolle ligapunte wat hulle uit Boksburg kon terugbring.
* Rustenburg Impala het intussen Saterdag op hul tuisveld die ander oorblywende span uit die Valke se geledere, Springs, met 75-14 afgeslag om hul aanspraak op ‘n plek in die Superliga se halfeindstryd te bevestig.
Impala het elf drieë ingeryg teen die moedige manne van Springs, wat self net twee keer die doellyn kon haal.
* Weens Brakpan se onttrekking uit die Superliga het Tukkies die afgelope naweek teen ‘n Bloubul uitnodigingspan gespeel. Tuks se oorwinning van 20-12 het weer bewys dat die gaping tussen die top klubspelers en die professionele spelers nie so groot is as wat soms geglo word nie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
