Local sportSport

Loftus 200-rugbyspan herleef met Victor Matfield as afrigter

Die bekende Loftus 200-rugbyspan, bestaande uit spelers van Carltonbeker-klubs, herleef op 7 Julie vanjaar, wanneer dié span in ‘n wedstryd teen die professionele span van die Valke sal speel.

Klubrugbyspelers in Pretoria sal vanjaar weer die geleentheid kry om verteenwoordigende rugby te speel.

Nadat SA Rugby weens finansiële druk enkele seisoene gelede die provinsiale toernooi vir amateurspanne geskrap het, was daar nie meer geleentheid vir klubspelers om hul provinsie te verteenwoordig nie.

Hierdie situasie gaan vanjaar verander vir klubspelers in die Blou Bulle se Carltonbeker-liga met die herlewing van die Loftus 200-span. Die span sal geborg word deur die fiksheid- en leefstylmaatskappy, Just Victorious Living (JVL) en sal dus bekendstaan as JVL Loftus 200.

Willem Strauss, nuwe president van die Blou Bulle rugby-unie, het Donderdag sy nuutste inisiatief aangekondig om klub- en amateurrugby in Pretoria op te hef. Dié plan behels die herlewing van die Loftus 200-span, wat in die amateurdae van rugby vanweë hul opwindende spelstyl baie gewild was by toeskouers op Loftus Versfeld.

Dié span is in die mid-1980’s gestig as inisiatief van Loftus 200, ‘n klub wie se lede bestaan uit oud Bloubul-spelers en rugbyliefhebbers uit die korporatiewe sektor. Die klub besit een van die grootste losies op Loftus Versfeld en gereelde funksies word aangebied om nie net oud-spelers die kans te gee om hul vriendskapsbande in stand te hou nie, maar ook as korporatiewe netwerk forum.

Loftus 200 het in die amateurdae van rugby gereeld ‘n uitnodigingspan uit Carltonbeker-rugbyspelers gekies wat dan teen teenstanders reg oor Suid-Afrika uitgedraf het. Dié teenstanders het gereeld provinsiale spanne van kleiner unies ingesluit.

https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/1781624715229270/

Strauss het by die bekendstelling van die 2018 weegawe van die Loftus 200-span gesê dat hy die herlewing van die span sien as ‘n geleentheid om twee doelwitte te bereik. Eerstens sal dit topspelers uit die Carltonliga weer die geleentheid gee om met die Babertonse Madeliefie op die bors in ‘n verteenwoordigende span te speel. Tweedens sal dit die geleentheid skep om spelers en afrigters uit die amateursektor en oud-spelers uit die professionele sektor nader aan mekaar te bring.

Volgens Strauss kan hierdie inisiatief ook dien as ’n platform vir blootstelling aan amateurspelers wat goed genoeg is om professioneel te speel.

“As een of twee spelers elke jaar raakgesien word en ‘n geleenheid kry op professionele vlak, het ons iets bereik,” het Strauss gesê.

Die 2018 Loftus 200-span sal afgerig word deur die gewese Bulls- en Springbok-kaptein, Victor Matfield. Hy sal bygestaan word deur twee afrigters van Carltonbeker- spanne, Marinus van der Watt van ABE Naka Bulle en Gert Muller van Quins-Bobbies.

Die gewese Bulls- en Springbok-vleuel, Akana Ndungane, sal vanjaar die spanbestuurder van die Loftus 200 wees.

Matfield het by die span se bekendstelling gesê hy is bly om weer ‘n geleentheid te hê om ‘n span op Loftus Versfeld af te rig. Hy is ook opgewonde oor die vooruitsig om ‘n skakelrol te kan vervul wat amateurrugby en die professionele sektor nader aan mekaar kan bring.

Die span speel hul eerste wedstryd op 7 Julie teen die provinsiale span van die Valke, wat tans in aksie is in die SuperSport Challenge toernooi. Dié wedstryd sal dien as voorwedstryd vir die Bulls se SupeRugby-kragmeting met die Jaguares.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button