Local sportSport

Nuwe rekord vir Bulletjiedag op 25ste herdenking

Die Blou Bulle se jaarlikse Bulletjiedag, wat vanjaar vir die 25ste keer aangebied is, het ‘n nuwe rekord getal deelnemers gelok.

Die Blou Bulle Rugby-unie se jaarlikse Vodacom Bulletjierugby dag op Loftus Versfeld het vanjaar weer alle verwagtinge oortref en ‘n nuwe rekord vir deelname aan dié aksie is opgestel.

Net meer as 6100 seuns (én ‘n paar avontuurlustige meisies) tussen die ouderdomme van 6 en 9 het Saterdag na Loftus Versfeld se B-, C- en D-velde opgeruk om deel te wees van die grootste amptelik  Bulletjiedag ooit.

Om die nuwe rekord nog meer spesiaal te maak is dit bereik op die 25ste herdenking van die Blou Bulle se amptelike Bulletjiedag. Volgens Johan Schoeman, voormalige algemene bestuurder van die Blou Bulle Rugby-unie en die man wat die Bulletjiedag 25 jaar gelede begin het, is dit sover bekend die grootste mini-rugby dag ter wêreld.

Dié rugbyfees, wat jaarliks gewilder word, het vanjaar meer as 20 000 ondersteuners in die vorm van vriende en familie van die spelertjies gelok.

Bulletjierugby is ’n besonder gewilde formaat van die spel, waartydens daar nie net ’n liefde vir rugby gekweek word by die jong spelers nie, maar ook vroeg reeds vaardighede en basiese beginsels van rugby aan hulle bekendgestel word. Die wenmotief word op die agtergrond geplaas en die klem van die spel is op deelname, samespel en genot.

Die seuns speel nie kontakrugby nie. Hulle word dus nie op dié jong ouderdom aan ernstige beserings blootgestel nie. Elke speler kry twee materiaal stroke wat met die hulp van ‘velcro’ aan hul heupe geheg word. Verdedigers moet dan een van hierdie stroke van die aanvaller se heupe afruk, waarna hy onmiddelik die bal moet uitgee. Geen spelers sonder albei sy materiaal stroke aan sy lyf mag dus ’n drie gaan druk nie.

Albei spanne se afrigters word ook saam met die skeidsregter op die verkleinde speelveld toegelaat om die seuntjies leiding te gee. Die speelveld is ongeveer een agtste van ‘n standaard rugbyveld.

Behalwe vir die rugby was daar ook ander vermaak vir oud en jonk. Kos- en koeldrank stalletjies het fluks besigheid gedoen, terwyl ’n speelpark met springkastele ook sommige van die kinders besig gehou het.

 

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button