Grizzlies Jeugklub mik na groter sukses in 2018
Na ‘n puik seisoen in 2017 wil die Grizzlies Jeugklub vanjaar selfs groter sukses behaal in die Blou Bulle se Jeugklub ligas.
Die sukses van Tuine Sportklub se Grizzlies rugbyspanne het die afgelope jaar ook gereflekteer in die groei wat ondervind is by die Grizzlies Jeugklub.
Verlede jaar het dié jeugklub geleenthede gebied aan sowat 350 seuns, wat vanaf die ouderdom van o.7 tot by die o.18 span in die Grizzlies se trui uitgedraf het in die Blou Bulle se amptelike jeugklub liga.
Die bestuur van Grizzlies se jeugklub glo egter hulle kan selfs beter doen in 2018. Hul doelwit is om nog meer geleenthede vir seuns te skep wat by die klub aansluit.
‘n Woordvoerder van Tuine Sportklub het aan Rekord gesê die snelle ontwikkeling ten opsigte van klubrugby wat plaasgevind het by die Blou Bulle sedert die nuwe bestuur oorgeneem het, maak dié klub ook opgewonde oor die toekoms.
Daar is tans tien klubs wat meeding in die Blou Bulle se jeugklub ligas. Die standaard van rugby in dié ligas is tans baie hoog en as bonus is daar ook geleentheid vir seuns in sekere ouderdomsgroepe om vir verteenwoordigende spanne van die Blou Bulle gekies te word en dus in die jaarlikse interprovinsiale jeugklub toernooi met die rooi madeliefie op die bors te speel.
Seuns in die ouderdomsgroepe o.13, o.14, o.15, o.16 en o.18 speel binnekort provinsiale proewe om vir dié spanne in aanmerking te kom. Vanjaar se interprovinsiale jeugklub toernooi sal in Durban plaasvind.
Die Grizzlies Jeugklub het oor die afgelope paar seisoene verskeie spelers opgelewer wat in die Blou Bulle se jeugklub spanne opgeneem is.
Seuns tussen die ouderdom van 7 en 18 wat betrokke wil raak by die Grizzlies Jeugklub is welkom om oefeninge by te woon. Oefeninge vind elke weeksdag plaas vanaf 18:00 op die klub se velde op die hoek van Ds. Krige en Jennings strate in Daspoort. Kontak gerus die klub om uit te vind op watter dae die verskillende ouderdomsgroepe oefen.
Meer inligting is beskikbaar op die klub se Facebook blad onder Tuine Sport Klub of die webwerf by www.tuinesportklub.co.za of kontak die jeugklub voorsitter, Dino Slabbert by 082-410-6669.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
