Local sportSport

Een trofee elk vir Tuks en ABE Naka Bulle in junior ligas

Die hoë standaard van junior klubrugby in Pretoria, wat kenners van die spel op dié vlak moed gee vir die toekoms, is verlede week onderstreep tydens die o.20 en o.21 Carltonbeker eindstryde.

Twee nuwe kampioene is verlede week gekroon in die Blou Bulle se top junior klubligas.

Ná afloop van die Carltonbeker se o.20 en o.21 eindstryde, wat verlede week op Loftus Versfeld beslis is, kan Tukkies en ABE Midas Naka Bulle elk met ‘n trofee spog.

Beide die eindstryde is tussen dié twee klubs beslis en nadat die manne van die Moot ‘n spannende en opwindende stryd in die o.20 liga naelskraaps met 26-25 gewen het, het die studente kort daarna die bordjies verhang met ‘n oorwinning van 34-14 in die o.21 liga.

* Die eindstryd in die o.20 liga het onder sommige toeskouers ook bekendgestaan as die stryd tussen Pretoria se twee sterkste rugby-akademies. Sowat 13 van ABE Midas Naka Bulle se spelers in dié wedstryd is verbonde aan die Internasionale Rugby-instituut, wat by dié klub gesetel is. Daarenteen was die meerderheid van Tukkies se spelers ook lede van die Tuks/Blou Bulle Rugby-akademie.

Dié wedstryd het liefhebbers van klubrugby hoop gegee vir die toekoms juis vanweë die besonder hoë standaard van die spel wat opgedis is.

Geen genade is gegee of gevra in die stryd nie en beide spanne het positiewe, ondernemende rugby gespeel.

ABE Midas Naka Bulle het uiteindelik hul oorwinning verdien met drie drieë teen die twee van Tuks.

* Hoewel ABE Midas Naka Bulle in die o.21 eindstryd as die gunsteling op die veld gedraf het nadat hulle die liga-seisoen onoorwonne afgesluit het, het Tuks hul huiswerk vooraf deeglik gedoen en daarmee waarskynlik die knoop deurgehaak.

Die studente het die verdedigende kampioen veral by die afbreekpunte en in die lynstane geteiken en sodoende verhoed dat hul gevaarlike agterlyn te veel kans kry op die aanval. Die woelige flank, Hanru Sirgel, het ‘n reuse wedstryd vir Tuks gespeel en hy het ABE Midas Naka Bulle van baie momentum beroof met sy inklimspel.

Ook in hierdie wedstryd het die spelers bewys dat die standaard van klubrugby op junior vlak gesond is. Dit was egter ‘n genadelose stryd wat baie meer intens verloop het as wat die eindtelling aandui.

‘n Vlaag beserings aan ABE Midas Naka Bulle se kant het hulle kanse in die tweede helfte erg geknou en hulle moes die wedstryd met slegs 13 spelers voltooi, omdat daar meer beserings as plaasvervangers was.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button