Local sportSport

Carltonbeker kry tog ‘n ‘eindstryd’

Die uitslae van wedstryde in die Superklubliga het só verloop dat die laaste ligabepaling tussen Tukkies en ABE Midas Naka Bulle terselfdertyd ook vanjaar se wenner van die Carltonbeker sal bepaal.

Hoewel daar vanjaar geen amptelike eindstryd gespeel sou word om die wenner van die Carltonbeker-toernooi te bepaal nie, het sake só uitgewerk dat die wedstryd tussen Tukkies en ABE Midas Naka Bulle op 21 Julie inderdaad as eindstryd sal dien.

Die wenner van dié wedstryd sal ongetwyfeld as vanjaar se Carltonbeker-kampioen gekroon word. Die Carltonbeker-punteleer word vanjaar bepaal in wedstryde waarin die vier Carltonbeker-klubs teen mekaar speel tydens die nuwe interprovinsiale Superliga. Die span wat volgens hierdie metode bo eindig op die Carltonbeker-punteleer, sal as kampioen gekroon word.

Nadat ABE Midas Naka Bulle die afgelope naweek ’n klipharde stryd teen Quins-Bobbies met 27-15 gewen het, lê hulle nou bo-aan die Carltonbeker-punteleer met 22 ligapunte. Tukkies, wat nog teen twee Carltonbeker-teenstanders moet speel, het tans 20 ligapunte. Die studente speel op 14 Julie teen Centurion en as hulle volpunte in dié wedstryd kry, beteken dit dat hulle drie punte meer as die manne van die Moot sal hê wanneer die ‘eindstryd’ op 21 Julie plaasvind.

Centurion kan ABE Midas Naka Bulle dus ’n guns doen deur òf met Tukkies af te reken òf hulle ten minste te verhoed om vier drieë vir ‘n bonuspunt te behaal, wat die permutasies vir Marinus van der Watt en Naas Rossouw se span sal vergemaklik.

Soos sake tans staan is ABE Midas Naka Bulle se punteverskil op die Carltonbeker-tabel 50 punte beter as dié van Tuks, wat ook in hul guns kan tel as tegniese permutasies dalk op 21 Julie ter sprake kom.

Intussen het ABE Midas Naka Bulle ook seker gemaak dat hulle vroeg volgende jaar die Blou Bulle se verteenwoordiger sal wees in die nasionale Gouebeker-toernooi, waaraan die land se beste oopklubs (klubs wat nie aan ’n tersiêre instelling verbonde is nie) deelneem.

* Tuks bly waarskynlik die gunsteling om beide die Carltonbeker en die Superliga te wen. Dít het hulle onderstreep deur hul onoorwonne status in albei reekse te behou met ‘n goeie oorwinning van 38-7 in ‘n weg-wedstryd teen Springs in die Superliga. Dié Oosranders het reeds bewys dat hulle baie gevaarlik kan wees op hul tuisveld, maar Tuks het ’n kliniese vertoning gelewer deur ses drieë teen die tuisspan se een te druk.

* Centurion het die afgelope naweek ook weer op die wenpad gekom toe hulle wraak geneem het teen East Rand United (ERU) met ’n baie goeie oorwinning van 50-19.  ERU het Centurion in die eerste ronde op hul tuisveld in Reigerpark verras.

Met hierdie oorwinning het Centurion hul vlammetjie van hoop in die Superliga brandend gehou. As hulle daarin kan slaag om QBR op 23 Junie met ’n bonuspunt te klop én die manne van Groenkloof verhoed om self ’n bonuspunt te verdien, sal hulle teoreties nog ’n kans hê om vir die Superliga-halfeindronde te kwalifiseer.

In so ’n scenario sal Centurion op 14 Julie met Tuks moet afreken en dan moet hoop dat Impala op 21 Julie ook vir QBR klop.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button