Vyf lede van een gesin in aksie by landloop kampioenskap
Vyf lede van die hardlopende Visser-gesin van Montana sal eerskomende naweek deel wees van die Gauteng-Noord span by die Interprovinsiale Landloop kampioenskap.

Dis nie ‘n vreemde gesig om lede van dieselfde gesin in aksie te sien by ‘n sportbyeenkoms soos ‘n atletiek- of landloop kampioenskap nie.
Die Visser-gesin van Montana sal egter waarskynlik eerskomende naweek ‘n rekord opstel nog voor die eerste wedloop van die Interprovinsiale Landloop kampioenskap op Zeerust in Noordwes begin.
Vyf lede van dié hardlopende Vissers sal Gauteng-Noord verteenwoordig by die byeenkoms. Die sussies Michelle (16) en Nicole (15) is albei leerlinge aan Hoërskool Garsfontein en hulle sal in hul onderskeie ouderdomsgroepe in die kleure van Gauteng-Noord in aksie wees.
Hul jonger boeties, O’Neil (10) en Tristan (9), albei leerlinge aan Laerskool Stephanus Roos, is ook deel van die Gauteng-Noord span wat dié provinsie gaan verteenwoordig.
Dié vier Visser kinders is reeds bekende gesigte op die landloopbane van Suid-Afrika en kry nou vir die eerste keer die geleentheid om almal deel van dieselfde provinsiale span te wees.
Om alles te kroon het die vier kinders se ma, Angelique, vanjaar ook haar Gauteng-Noord kleure verwerf en met haar insluiting in die span (vroue 35-39) beteken dit dat vyf lede van die Visser-gesin in aksie sal wees vir dié provinsie.
Angelique het aan Rekord gesê dat sy op skool ‘n bietjie aan atletiek deelgeneem het, maar in haar volwasse lewe eerder in die gimnasium fiks gebly het. Met haar kinders se deelname en haar betrokkenheid as ondersteuner en die een wat hulle na oefeninge moes aanry, het die gogga haar vroeër vanjaar gebyt om ook te begin hardloop.
Hoe fikser sy geword het, hoe beter het sy gevaar en kort voor lank het Angelique, soos haar kinders, die medaljes begin inryg. Nou is sy net so toegewyd soos die kinders en self ‘n trotse lid van Gauteng-Noord se landloopspan.
Pa Manie Visser se bors swel natuurlik van trots en hy maak geen geheim daarvan dat hy sy hardlopende gesin se grootste ondersteuner is nie. Hy sal die naweek in Zeerust langs die baan wees om sy vrou en kinders te ondersteun.
Die kinders se hardloop-talent kom darem ook nie net van hul ma af nie. Manie is self ‘n toegewyde pad-atleet wat die Comrades marathon al vyf keer voltooi het.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
