Lynx ringbalspan weer Gauteng-Noord kampioen
Die dames van die Lynx ringbalklub is onlangs vir die sewende jaar agtereenvolgens as Gauteng-Noord kampioen gekroon.

Die plaaslike ringbal seisoen is pas afgehandel en vir die sewende jaar agtereenvolgens het die dames van die Lynx klub die liga onoorwonne afgesluit.
Met nóg ‘n Gauteng-Noord titel in die sakkie beteken dit ook dat dié dames weer die provinsie by die jaarlikse nasionale kampioenskap gaan verteenwoordig. Die kampioenskap word eersdaags in Krugersdorp aangebied.
Die Lynx span was verelde jaar ook die wenners van die nasionale kampioenskap en hulle sal uiteraard alles in die stryd werp om ook dié titel weer in te palm. Die klub se puik afrigter, Hardus Ackermann, is reeds besig met sy beplanning en sy span berei tans voor om die res van die land se beste klubs aan te durf.
Intussen word die jaarlikse provinsiale ringbal toernooi vanjaar weer vanaf Maandag 2 Julie tot Saterdag 7 Julie by Korfbalpark in Gezina aangebied. Die publiek is natuurlik welkom om die Gauteng-Noord spanne te kom ondersteun tydens dié week se aksie.
Voornemende ringbal spelers wat belangstel om by die Lynx klub aan te sluit is welkom om Joanne Vorster by 071-163-6267 of Laurika Willemse by 082-973-4609 te kontak vir meer besonderhede.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
