Local sportSport

Plaaslike gestremde atlete op pad na wêreldspele

Nadat hulle verlede jaar al drie puik presteer het op die internasionale front, het drie plaaslike gestremde atlete weer gekwalifiseer om vanjaar in Ierland deel te neem aan die wêreldkampioenskap.

Drie jong gestremde atlete van Pretoria sien met groot opgewondenheid uit na hul deelname aan die Internasionale ‘Wheelchair and Amputee Sports Federation’ (IWAS) se wêreldkampioenskap, wat tussen 30 Junie en 5 Julie vanjaar in Ierland aangebied word.

Mandilené Hoffmann, Emile Burgers en Simoné Kruger het al drie gekwalifiseer vir dié internasionale spele en agter die skerms word daar nou hard gewerk om die logistiek en finansies in orde te kry vir dié drie se deelname. Die atlete moet hul eie kostes dek om in Ierland te kan deelneem.

Hoffmann is ‘n leerling aan die Hoërskool Eduplex. Ten spyte van haar gestremdheid, wat deur die rare EZH2 Overgrowth sindroom veroorsaak word, presteer dié dapper meisie baie goed op die atletiekbaan, waar sy in die F44 klas deelneem.

Sy het vanjaar guderende die kampioenskap van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Fisiek Gestremde Atlete (SASAPD) drie goue medaljes verwerf in gewigstoot, spiesgooi en diskus.

Hoffmann hou ook die Suid-Afrikaanse rekord in gewigstoot (9.80m) en diskus (24,44m) vir meisies onder 16 in die F44 klas. Haar persoonlike beste afstand in die gewigstoot is slegs enkele sentimeter korter as die huidige wêreldrekord vir haar ouderdomsgroep.

Verlede jaar by die IWAS kampioenskap in Portugal het Hoffman as 15-jarige ‘n goue medalje verower vir dogters onder 18 (gemengde klasse) vir gewigstoot en brons in die diskus vir vroue onder 20 (gemengde klasse).

Hierdie prestasies het aan Hoffman die toekenning as beste meisies-atleet uit LSEN Skole besorg by die Gauteng Skolesport toekennings vir 2017.

Emile Burgers neem ook in die F44 klas deel. Dié 14-jarige leerling aan die Hoërskool Dirk Postma, se een been is net onder die knie geamputeer.

Hy is ‘n veelsydige atleet wat guderende vanjaar se SASAPD Kampioenskap ook drie goue medaljes verwerf het in die 100 meter naelloop, spiesgooi en diskus.

Burgers is tans ook die houer van drie nasionale rekords (100m, spiesgooi en diskus) in sy ouderdomsgroep en gestremdheidsklas.

Hierdie veelsydige atleet het ook verlede jaar in Portugal die goue medalje vir spiesgooi (onder 20, gemengde klasse) huis toe gebring.

Die derde Pretorianer in vanjaar se Suid-Afrikaanse span, die 13-jarige Simoné Kruger, is ‘n leerling aan Laerskool Maragon en haar gestremdheid spruit uit ‘n ‘hemorrhagic’ beroerte wat sy as voorgeboortelike fetus gehad het.

Kruger is ook ‘n veelsydige atleet wat deelneem aan naellope, spiesgooi, gewigstoot en diskus in die F38 klas. Sy hou die nasionale rekords in sowel die gewigstoot (8,49) as die diskus (25,53m) in die afdeling vir alle ouderdomme.

Sy het guderende vanjaar se SASAPD Kampioenskap twee goue medaljes (gewigstoot en diskus) en twee silwer medaljes (100m en spiesgooi) verwerf.

Dié jong atleet het in 2017 drie silwer medaljes (100m, spiesgooi en duskus) vanaf Portugal teruggebring. Wat dié prestasie meer merkwaardig maak is dat sy as 12-jarige teen meisies van 18 jaar (en in die diksus selfs ouer) deelgeneem het.

Vir meer inligting oor die kampioenskap en die drie plaaslike atlete se deelneme kan Madri Hoffmann per epos gekontak word by mhoffman@justice.gov.za .

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button