Tragedie tref rugbyklub toe speler op speelveld sterf
Boodskappe van medelye en simpatie stroom steeds in op sosiale media, nadat ‘n klubrugby speler van die Grizzlies Rugbyklub in Tuine in die weste van Pretoria tydens ‘n vriendskaplike wedstryd op die rugbyveld oorlede is.
Die rugbygemeenskap van die Tuine Sportklub is Saterdagmiddag in skok en rou gedompel ná die tragiese afsterwe van een van hul spelers tydens ‘n vriendskaplike wedstryd.
Neels Rademeyer (36) het Saterdagmiddag by Tuine Sportklub vir die Grizzlies se derdespan uitgedraf in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Johannesburg Polisie.
Hoewel hy gewoonlik as flank diens doen, het hy in dié wedstryd aanvanklik senter gespeel. Hy is later teruggeskuif na flank.
Volgens ‘n woordvoerder van die klub het hy glo teen rustyd gekla van borspyn, maar gesê dat hy reg is om verder te speel. In die tweede helfte van die wedstryd het Rademeyer ná ‘n aanvallende skrum van die Grizzlies span bly lê. Hoewel daar aanvanklik gedink is dat hy ‘n besering opgedoen het, het die skeidsregter en sy spanmaats dadelik besef dat daar groot fout is met Rademeyer. Die paramediese personeel aan diens by die wedstryd het ook onmiddellik noodbehandeling begin toepas toe hulle sien dat Rademeyer se gesig blou begin word.
Addisionele mediese hulp is dadelik ontbied en dié paramedici van ‘n bekende ambulansdiens het alles in hul vermoë gedoen om Rademeyer by te bring, maar dit was tevergeefs. Hy is sowat ‘n uur later op die rugbyveld dood verklaar.
Na dié tragiese gebeure is alle verdere wedstryde vir die dag afgelas. Verskeie lede van die klub, asook ander lede van die klubrugbygemeenskap van Pretoria het hul skok en hartseer oor die tragedie op sosiale media uitgespreek, terwyl medelye en simpatie van oral vir Rademeyer se familie en vriende steeds instroom.
Johan Beukes, voorsitter van die Grizzlies Rugbyklub het aan Rekord gesê die hele gemeenskap is verpletter deur dié tragiese voorval. Hy het gesê dat ‘n nadoodse ondersoek die oorsaak van Rademeyer se tragiese dood sal bepaal, maar dat dit tans nog ‘n raaisel is.
Beukes het gesê volgens die span se afrigter was daar geen ooglopende voorval tydens die wedstryd wat aanleiding kon gee tot ‘n nootlottige besering aan Rademeyer nie. Daar word ook bespiegel dat hy aan ‘n hartaanval of weens trombose gesterf het en die moontlikheid bestaan selfs dat hy ‘n ernstige epileptiese aanval kon gehad het.
Volgens Beukes was Rademeyer ‘n baie gewilde speler by die klub. Hy was een van die ervare manne in die derdespan, wat vroeër in sy rugbyloopbaan ook vir die klub se eerstespan en vir ander klubs soos Westelikes en Oostelikes Eagles uitgedraf het. Hy was in sy jonger dae ook deel van die Blou Bulle se amateurspan wat aan die nasionale Platteland Toernooi deelgeneem het.
Rademeyer word oorleef deur sy vrou, Marisca en twee laerskool seuns. Sy 12-jarige seun, Marnus, is deel van die Blou Bulle se o.12 provinsiale span wat tans betrokke is by SA Rugby se Nasionale o.12 Rugbyweek in Vryheid. Sy jongste seun, Nethan (8) is ook betrokke by junior klubrugby.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

