Centurion klop QBR oortuigend, gee hulself ‘n kans in Superliga
Die laaste rondte ligawedstryde in die nuwe Super klubliga sal bepaal wie van Quins-Bobbies of Centurion die vierde kandidaat in die halfeindrondte van dié toernooi gaan wees.
Die afwagting vir die groot stryd tussen Tukkies en ABE Midas Naka Bulle op 21 Julie, wat die wenner van die Carltonbeker in 2018 gaan bepaal, is nié die enigste klimaks-wedstryd in die laaste ligabepaling van vanjaar se plaaslike klubrugby nie.
Die verloop van dié nuwe Superliga het só uitgewerk dat daar inderdaad ook twee nie-amptelike kwarteindstryde gaan plaasvind. In hierdie twee wedstryde sal alle oë wees op Quins-Bobbies Rugbyklub (QBR) en Centurion, wat in ‘n hewige stryd gewikkel is om die vierde posisie op die punteleer, wat ook ‘n plek in die Superliga halfeindstryd beteken.
Ná die afgelope naweek se aksie, waartydens Centurion volpunte verdien het met hul oorwinning van 45-27 oor QBR, sal dié twee klubs se onderskeie laaste ligawedstryde bepaal watter een van die twee die vierde kandidaat in die Superliga halfeindstryde gaan wees.
Centurion het tans 29 ligapunte en is in die vyfde plek op die Superliga punteleer. Hulle het die moeilikste taak van die twee, aangesien hulle Tukkies op 14 Julie moet klop om hul halfeindstryd-hoop lewend te hou. Dan sal Centurion ook moet hoop dat Rustenburg Impala op 21 Julie met QBR afreken én dat die Noordwesters dit boonop só doen dat QBR geen bonuspunte verdien nie.
Die manne van Groenkloof, wat Saterdag een baie belangrike ligapunt vir hul vier drieë teen Centurion verdien het, is tans vierde op die punteleer met 33 punte. Hulle het dus inderdaad slegs twee ligapunte nodig om hul plek in die halfeindstryd te verseker. Dit beteken ‘n gelykop-uitslag of ‘n nederlaag met minder as sewe punte én vier drieë in hul guns teen Impala sal genoeg wees vir Gert Mulder en Johan Kluyts se manne om vierde te eindig en dan die groot taak te hê om Tukkies se teenstander in die halfeindstryd te wees.
Saterdag se stryd tussen QBR en Centurion was weer ‘n bewys van die besonder hoë standaard van rugby in die nuwe Superliga. Die aksie was genadeloos en kliphard, maar het weer gewys dat, ten spyte van die feit dat slegs vier top klubs in Pretoria oorgebly het wat op dié vlak kan kompeteer, is daar spelers in dié liga is wat selfs goed genoeg is vir Curriebeker rugby.
Nadat die rustydtelling nog 17-19 in Centurion se guns was, het Riaan Brand se manne eers in die laaste vyftien minute die oorhand gekry. Hul meer beweeglike voorspelers was ‘n groot bate in ’n wedstryd wat deurgaans teen ‘n stewige pas gespeel is. Centurion het drie keer gaan druk in daardie laaste kwartier om die uitslag bo alle twyfel te stel.
* Die stryd tussen ABE Midas Naka Bulle en Rustenburg Impala, wat met 25-10 deur die Noordwesters gewen is, was inderdaad slegs van akademiese belang, aangesien dié twee spanne se tweede (ABE Midas Naka Bulle) en derde (Impala) plekke op die punteleer reeds voor die wedstryd bepaal is. Hulle sal dus ook in die halfeindstryd teen mekaar te staan kom.
ABE Midas Naka sal so gou moontlik van hierdie nederlaag wil vergeet en ernstig begin konsentreer op hul voorbereiding vir hul stryd teen Tukkies op 21 Julie, wat die wenner van die Carltonbeker sal bepaal.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

