Pretoria Rugbyklub word weer tuiste vir ou en nuwe generasies
Nadat Pretoria Rugbyklub onlangs uit die as opgestaan het, is dié klub deesdae nie net suksesvol op die rugbyveld nie, maar hul droom om weer ‘n sosiale fokuspunt in Pretoria te word vorder ook goed.
Die “nuwe” Pretoria Rugbyklub gaan steeds van krag tot krag.
Nadat dié rugbyklub vir etlike seisoene dormant was, het ‘n groep sakemanne en rugbyliefhebbers teen die einde van 2017 bymekaargekom en besluit om ‘n plan te maak om die klub te laat herleef.
Daar is hande gevat met die Baviaanspoort Rugbyklub, en die nuwe klub het sedert die begin van die huidige seisoen baie vinnig gegroei. Hy was in staat om vier senior spanne en een onder-20 span vir die Blou Bulle se ligas in te skryf.
Terwyl die onder-20’s intussen sesde in die hoogs kompeterende junior Carltonliga geëindig het, doen die senior spanne tans besonder goed in die Carlton-B liga. Volgens die jongse puntelyste is Pretoria se eerstespan bo aan die punteleer, terwyl die tweedes ‘n kortkop agter Korrektiewe Dienste in die tweede plek lê in hulle afdeling.
Die klub se derde- en vierde spanne speel saam in die derde afdeling in dié liga en ten minste een van hulle staan nog ‘n kans om die halfeindrondte te haal.
Pretoria se bestuur maak geen geheim van hul langtermyn plan is om uiteindelik weer saam met die groot honde te blaf in die Blou Bulle se top Carltonliga nie.
Intussen gaan dit ook van die veld af besonder goed met die klub. Volgens die klubbestuurder, JJ Botses, is hulle op koers met hul planne om die terrein te ontwikkel en bouwerk aan ‘n nuwe onthaal-area, wat ‘n restaurant en kroeg sal insluit, vorder goed.
Botes en die bestuur van Pretoria Rugbyklub het ook begin om stelselmatig die oud-spelers en voormalige bestuurslede van dié roemryke klub weer betrokke te kry by hul sosiale bedrywighede. Die eerste funksie van ‘n beplande “Old Boys’ klub is onlangs in die vorm van ‘n potjiekos kompetisie aangebied en dit was ‘n reuse sukses. Verskeie oud spelers, wat gewese Bloubul sterre en Carltonbeker legendes ingesluit het, het tydens dié funksie saam gekuier.
Ses spanne het ingeskryf vir die potjiekos kompetisie, wat deur die klub se president, prof. Neels van Heerden en die legendariese Bloubul kaptein, Thys Lourens, beoordeel is.
Volgens Botes beplan hulle om hierdie funksie ‘n maandelikse instelling te maak en sodoende ‘n sosiale tuiste te skep vir enigiemand wat in die verelde deel was van die geskiedenis van Pretoria Rugbyklub, wat nou reeds oor 120 jaar strek.
Botes het aan Rekord gesê dat hulle ook die klub se aktiwiteite tot ander sportsoorte wil uitbrei. Daarvoor is daar planne om die fasiliteite te verbeter. Tans is die klub ook ‘n basis van een van Pretoria se grootste raakrugby klubs.
Vir meer besonderhede oor die bedrywighede van Pretoria Rugbyklub kan JJ Botes geskakel word by 082-777-5777.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

