Local sportSport

Jerry Senekal Atletiekklub vier 21 goue jare

Die bekende Jerry Senekal Atletiekklub het onlangs hul 21ste verjaardag met ‘n luisterryke funksie en prysuitdelingsgeleentheid gevier.

Te midde van groter en ryker atletiekklubs soos Tuks, TUT en ander wat gewoonlik aan groot korporatiewe borge se naam gekopel word, het die kleure van die Jerry Senekal Atletiekklub se atlete die afgelope 21 jaar ‘n welbekende gesig geword in atletiekkringe van Gauteng-Noord.

Dié klub het onlangs die voorreg gehad om sy 21ste verjaardag feestelik te herdenk en by hierdie geleentheid kon daar teruggekyk word op die baie hoogtepunte wat Jerry Senekal se atlete reeds bereik het.

Senekal, wat op sy dag self ‘n provinsiale atleet en kranige rugbyspeler was, het reeds van die begin van sy afrigtersloopbaan af ‘n passie vir die ontwikkeling van jong talent. Hierdie passie het hy in aksie omgesit toe hy in Maart 1997, na ‘n paar jaar as afrigter by ander instansies, die Jerry Senekal Atletiekklub gestig het.

Dié klub is gesetel by die Laerskool Saamspan in Mountain View, maar Senekal se klub het ook takke reg oor Pretoria waar sy afrigters met belowende jong talent werk.

As afrigter het Senekal reeds provinsiale kampioene opgelewer voordat hy die klub gestig het. Sedertdien het sy atlete reg oor die wêreld presteer. Hy het nie net junior kampioene opgelewer nie, maar ook verskeie presteerders in meesters atletiek, asook gestremde atlete.

Die klub se juniors (ouderdom 7-15) is die huidige Gauuteng-Noord spankampioene, terwyl Kobus Breedt die klub se huidige groot uitblinker onder die meesters atlete is. Breedt het vanjaar weer Suid-Afrikaanse kleure ontvang, nadat hy die AGN rekord in verspring vir die ouderdomsgroep 45-49 met 20 sentimenter verbeter het.

Oor die afgelope 21 jaar het die Jerry Senekal Atletiekklub nie minder nie as 393 atlete opgelewer wat Gauteng-Noord by nasionale Baan- en Veldatletiek kampioenskappe verteenwoordig het. In die pas afgelope seisoen het die klub 97 provinsiale atlete opgelewer.

Senekal en sy mede afrigters se harde werk word ook gereeld beloon as hul atlete by Gauteng-Noord se jaarlikse meriete-toekennings vereer word. Dié harde werk word weerspieël in die klub se merkwaardige getalle. In 2017 het die Jerry Senekal Atletiekklub in hul 20ste bestaansjaar 150 geregistreerde atlete onder hul vlerk gehad wat almal deur goed gekwalifiseerde afrigters bygetsaan is.

Die Jerry Senekal Atletiekklub het dus rede gehad om fees te vier by hul 21ste verjaardagfunksie, wat ook deur die president van AGN, John Mathane, bygewoon is.

Mathane het Senekal en sy mede-afrigters geprys vir die werk wat hulle doen, veral ten opsigte van die ontwikkeing van junior talent en die geleenthede wat hulle bied aan gestremde atlete.

Belangstellendes wat graag as atlete of afrigters betrokke wil raak by die Jerry Senekal Atletiekklub, kan Senekal skakel by 083-235-1689.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button