Local sportSport

Loftus 200 span wys krag van Bulle se klubrugby

Die Loftus 200 span, wat saamgestel is uit Carltonbeker klubrugby spelers, het hulself Saterdag op Loftus Versfeld puik van hul taak gekwyt teen ‘n omgekrapte Curriebeker span van die Valke.

Hoewel die Loftus 200 span die afgelope Saterdag op Loftus Versfeld met 31-21 verloor het teen die Curriebeker span van die Valke, het hul vertoning die krag van klubrugby in Pretoria onderstreep.

Saterdag se geskiedkundige wedstryd tussen die Loftus 200 span en die Valke het puik rugby opgelewer wat heelwat antwoorde verskaf het aan die manne wat oor die toekoms van rugby in Suid-Afrika moet besin.

Die Loftus 200 span, wat ná byna twee dekades herleef het as deel van die Blou Bulle Rugby-unie se nuwe inisiatiewe om amateurrugby ‘n hupstoot te gee, is saamgestel uit spelers van twee van die huidige vier senior Carltonbeker klubs. Dié gekombineerde groep van Quins-Bobbies (QBR) en ABE Midas Naka Bulle is afgerig deur die oud Bulls kaptein, Victor Matfield, wat bygestaan is deur Gert Mulder van QBR en Marinus van der Watt van ABE Naka Bulle.

Saterdag se wedstryd was ook deel van die Blou Bulle Rugby-unie se amptelike feesvieringe om hul 80ste verjaardag te herdenk.

Na slegs drie oefeninge in die week voor die wedstryd het die Loftus 200 span hulself besonder goed van hul taak gekwyt teen die Valke.

Die tuisspan het twee keer gaan druk in die eerste helfte en teen rustyd het hulle nog met 14-7 voorgeloop.

Na rustyd het die Valke met ‘n reuse aanslag gekom en die bal begin rondgooi om hulself as professionele spelers die verleentheid van ‘n nederlaag teen ‘n amateurspan te spaar. Hulle het daarin geslaag om vier keer die doellyn te haal, teenoor die Loftus 200 span se een drie in die tweede skof.

Matfield se span kon egter vir ‘n verrassing gesorg het as hulle ‘n paar kanse beter benut het. Die regtervleuel, Pule Sibya, was byvoorbeeld op ‘n kritieke tyd van die wedstryd in die hoek oor, maar die skeidsregter en lynregter het ná ‘n lang beraadslaging besluit dat hy die bal verloor het voor hy kon druk.

Kommunikasie op verdediging het ook soms gelol vir die Loftus 200 span, veral toe die Valke met mening begin aanval het in die tweede helfte. As in ag geneem word dat dié span uit twee verskillende klubs saamgestel is en nie baie tyd gehad het om kombinasies te vestig nie, het hulle inderdaad besonder goed gedoen.

Die feit dat die Valke ‘n volwaardige professionele span is, bring verdere perspektief op die vertoning van die tuisspan. Die Valke, wat deur die deurwinterde gewese Springbok hulpafrigter Rudy Joubert gebrei word, het ‘n maand gelede byna daarin geslaag om die Blou Bulle in die SuperSport Challenge toernooi te klop. Die eindtelling was 37-32 in die Blou Bulle se guns en dié span het SuperRugby spelers soos Matthys Basson, Conraad van Vuuren, Ruben van Heerden, Boom Prinsloo, Jamba Ulengo, JT Jackson. Dries Swanepoel, Edgar Marutlulle, Abongile Nonkontwana en Franco Naude in hul geledere gehad.

Die Blou Bulle se president, Willem Strauss, wat die herlewing van die Loftus 200 span geïnisieer het, was na die wedstryd tevrede met die span se vertoning. Hy het ook vroeër bekendgemaak dat daar planne is om later vanjaar ‘n tweede wedstryd vir de Loftus 200 span te reël, waarin spelers van die Bulle se twee ander Carltonbeker klubs, Tukkies en Centurion, die geleentheid sal kry om in dié trui uit te draf.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button