Zeney doen dit wéér
Pretoria se blinkste jong atletiekster, Zeney van der Walt, het die afgelope naweek haar tweede wêreldtitel ingepalm by die onder-20 Wêreldkampioenskap in Finland.
Pretoria en Afrikaans Hoër Meisieskool (AHMP) se jong atletiek-superster, Zeney van der Walt, is wéér ‘n wêreldkampioen.
Van der Walt het die afgelope naweek die goue medalje gewen in die 400m hekkies by die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) se onder-20 Wêreldkampioenskap in Finland, deur hakskene te wys vir haar opponente, wat bestaan het uit die room van die wêreld se juniors.
Dié lenige Affie was die enigste atleet in die eindwedloop wat dit kon regkry om deur die 56 sekondes grens te breek. Haar wentyd was 55,34 sekondes, terwyl Shiann Salmon van Jamaika tweede klaargemaak het in 56,11 sekondes. Van der Walt het met haar kragvertoning vir Salmon met sowat drie meter na die wenpaal geklop, terwyl die res van die atlete in die eindwedloop vernietigend verslaan is.
Hoewel die einrondte op ‘n nat baan afgehandel is, het dit Van der Walt nie geïntimideer nie en sy het weer gewys dat sy die vermoë het om binnekort een van wêreldatletiek se supersterre te word.
Hierdie prestasie van Van der Walt volg op haar verrassende oorwinning in dieselfde item by verlede jaar se IAAF onder-18 wêreldkampioenskap toe sy met ‘n verbasende eindpoging die gunsteling, Sanique Walker van Jamaika, geklop het om haarself op die nternasionale atletiektoneel aan te kondig.
Vroeër vanjaar het Van der Walt ook atletiekkenners laat regop sit met haar vertoning in die senior Suid-Afrikaanse kampioenskap, toe sy so byna die Olimpiese atleet, Wenda Nel, geklop het en in die proses die legendariese Myrtle Bothma se 35-jaar oue rekord vir onder-20 vroue in die 400m hekkies verbeter het.
Die gewilde jong atleet het in ‘n TV-onderhoud na die wedloop haar afrigter, Maritza Coetzee, geprys en haar blydskap uitgespreek dat hul harde werk weer kon vrugte afwerp.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
