Laerskoolseun van Centurion wen goud by internasionale muurbaltoernooi
‘n Talentvolle jong muurbalster van Centurion het onlangs ‘n reuse deurbraak gemaak in dié sport toe hy ‘n belangrike toernooi in Duitsland gewen het.
Die 12-jarige Luhann Groenewald van Laerskool Rooihuiskraal is amptelik een van die wêreld se beste junior muurbalspelers.
Hierdie feit is bewys toe Groenewald onlangs na Europa gereis het om in Duitsland en Nederland aan twee prestigeryke junior kampioenskappe deel te neem.
In Duitsland het hy geskiedenis gemaak deur die titel vir seuns onder-13 te wen by die Junior Europese Ope muurbaltoernpooi. Daarna is hy na Nederland, waar hy die silwer medalje ingepalm het toe hy as naaswener in dieselfde ouderdomsgroep in die Nederlandse Ope Junior Muurbalkampioenskap geëindig het.
Hierdie twee prestasies is maar net die jongste in ’n lang lys van titels en medaljes wat Groenewald op sy jong ouderdom reeds plaaslik en oorsee gewen het.
Dié seun is nie net die trots van sy skool nie, maar ook by die Uitsig Muurbalklub in Centurion, waar hy deur Mark Schickerling afgerig word en op sy ouderdom reeds in die derde liga saam met volwasse mans deelneem.
Hy het op 7-jarige ouderdom aan muurbal begin deelneem, toe hy by die bekende Maryna Fourie se Centurion Junior Squash aangesluit het.
Daarna het Groenewald baie vinnig opgang gemaak en sedert 2015 verteenwoordig hy gereeld die Northerns Junior Squash Association (NJSA) by toernooie in Suid-Afrika.
Twee jaar gelede het sy prestasies hom reeds die toekenning as Gauteng-Noord se beste skolespeler besorg en sedertdien het hy verskeie titels op provinsiale- en nasionale vlak gewen – gewoonlik teen teenstanders wat ouer as hy is.
Verlede jaar het hy as 11-jarige die goue medalje in die nasionale onder-14 liga saam met die Gauteng-Noord span gewen. Daarna is hy vir die SA Skolespan gekies en wéér as Gauteng-Noord se laerskole speler van die jaar aangewys.
Groenewald het verlede jaar ook in Duitsland aan die Cologne Ope deelgeneem in die onder-13 ouderdomsgroep, waar hy negende geëindig het. Daarna is hy ook na Amesterdam in Nederland, waar hy die halfeindrondte van die Nederlandse Junior Ope toernooi gehaal het.
Dié talentvolle seun se sportprestasies is egter nie tot die muurbalbaan beperk nie. As rugbyspeler is hy op 9-jarige ouderdom al as die skool se agterspeler van die jaar aangewys. Dié prestasie het hy daarna jaarliks herhaal, totdat hy verlede jaar as skrumskakel van die eerstespan diens begin doen het.
Na ’n puik seisoen, waartydes Rooihuiskraal vanjaar onoorwonne was teen alle teenstanders uit Gauteng, is Groenewald weer as agterspeler vn die jaar bekroon.
Op die krieketveld is Groenewald ’n puik kolwer en veldwerker, wat reeds die afgelope vier jaar by Laerskool Rooihuiskraal as krieketspeler van die jaar in sy ouderdomsgroep aangewys is.
Asof al hierdie sportprestasies nie genoeg is nie, is Groenewald boonop ’n akademiese uitblinker wat reeds by verskeie geleenthede oor die afgelope jare akademiese kleure van die skool ontvang het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

