Garsfontein stel rugby direkteur met internasionale ervaring aan
Hoërskool Garsfontein het ’n ou bekende in Bloubul geledere nader getrek om as hul nuwe direkteur van rugby aangestel te word.
Die Hoërskool Garsfontein het verlede week bekendgemaak dat ’n voormalige afrigter van die Blou Bulle se junior spanne, Hendré Marnitz, as hul nuwe Direkteur van Rugby aangestel is.
Marnitz sal die skoene volstaan van die gewese Cheetahs agtsteman, Ryno van der Merwe, wat Garsfontein verlaat om ’n soortgelyke pos by die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) te vul.
Dié nuwe grootbaas van die Garsie Bere, wat op sy dag as skrumskakel vir die Universiteit van Stellenbosch gespeel het, het vroeg in sy loopbaan besluit om homself op afrigting toe te spits.
Volgens die bestuur van Hoërskool Garsfontein het Marnitz se visie en kennis rondom die ontwikkeling van vaardighede van jong spelers hulle oortuig dat hy die regte man is om die Garsie Bere se rugby-aanslag vanaf 2020 te lei.
Hy het vroeg in sy loopbaan gevorder tot afrigter van Maties se o.19 span, waarna hy deur die WP se rugby-instituut nader getrek is.
Marnitz se eerste internasionale ervaring het reeds in 2009 gekom, toe hy by die nasionale span van Indië betrokke geraak het.
Daarna het hy twee jaar in Ierland deurgebring as hoofafrigter van die Buccaneers, wat in Ierland se laer liga speel.
In 2013 het die Blou Bulle hom teruggelok na Suid-Afrika, waar hy by die unie se junior spanne en die destydse Vodacombeker span betrokke was.
Marnitz het Pretoria in 2017 verlaat nadat hy die pos as verdedigingsafrigter by die Newport Dragons in Wallis aangebied is. Dié klub speel in die bekende Pro-14 reeks, waarby die Cheetahs en OP Kings ook deesdae betrokke is. Hy het die klub egter aan die einde van 2018 verlaat.
Volgens ’n verklaring van Garsfontein se hoof, Leon Bantjes, word Marnitz se kennis en vaardighede baie hoog aangeslaan deur manne soos Heyneke Meyer en Pote Human. Hy beskik oor ’n IRB Vlak 3 sertifikaat en is ’n IRB geakkrediteerde konsultant om opleiding te doen.
Bantjes het ook gesê Marnitz sal die taak hê om die Garsie Bere se handelsmerk uit te bou.
“Hy sal afrigters bemagtig en rugby by die skool op ’n baie hoë vlak bestuur. Die aanvallende spelpatroon, eie aan die Bere, sal op sy prioriteitslys wees,” het Bantjes gesê.
Die Garsie Bere het vanjaar ’n baie goei sesoen beleef, maar kon ten spyte van die feit dat hulle slegs drie nederlae in 16 wedstryde gely het, nie enige silwerware wen nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
