Local sportSchool sportSport

Rooi gesigte op Loftus ná debakel met Iqhawe week span

Die Blou Bulle Rugby-unie het verlede week erken dat daar deur administrateurs gefouteer is met die aanvanklike spanne wat vir vanjaar se Iqhawe toernooi gekies is, nadat die regstelling van dié fout woede en groot teleurstelling onder ouers en spelers veroorsaak het.

Die Blou Bulle Rugby-unie het verlede week erken dat logistieke- en organisatoriese tekortkominge verantwoordelik was vir die verleentheid rondom spanne van die unie wat kort voor die afskop van die nasionale Iqhawe Week verander is.

Sommige ouers beweer selfs dat seuns wat aanvanklik vir spanne na dié week gekies is – en kort voor die afskop van die toernooi moes uitvind dat hulle nie meer deel van die spanne sou wees nie – sielkundige skade kan oorhou weens administrateurs se foute.

Hierdie ouers is nou op die oorlogspad en eis regstelling op meer as een vlak. Daar word geëis dat die seuns wat slagoffers van die debakel was, skriftelike verskonings van die unie moet kry. Verder word geëis dat teen administrateurs opgetree moet word wat vir die debakel verantwoordelik was.

Die Iqhawe Week is ’n spesialis ontwikkelingsrugby toernooi, wat jaarliks aangebied word in samewerking met die SA Rugby Legendes Assosiasie (SARLA). Volgens SARLA se mandaat vir hul betrokkenheid moet hierdie toernooi dien as ontwikkelingsgeleentheid vir rugbyspelers op grondvlak, wat beteken dat daar met die samestelling van die spanne gekonsentreer word op  skole wat nie tradisioneel as rugbyspelende skole geklassifiseer kan word nie, asook skole in landelike- en minder bevoorregte gebiede.

Volgens dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, is dit wel so dat spelers aanvanklik vir Bloubul spanne na die Iqhawe Week gekies was wat nie voldoen het aan die kriteria nie.

Hare het aan Rekord gesê weens die herstrukturering en vermindering van BBRU personeel is die hantering van die Iqhawe span oorgedra na die Blou Bulle se Hoërskolevereniging. Daar het egter skynbaar ’n misverstand ontstaan in die kommunikasie-proses en terwyl die vereistes vir Iqhawe Week spanne slegs betreking het op skole in die Bulle se Afdeling-5 skoleligas (skole met 4 en minder spanne, nie-tradisionele rugbyskole en skole uit landelike/minder bevoorregte gebiede), is daar toe ook spelers gekies uit Afdeling- 4 van die skoleligas.

Hierdie span sou egter deur die organiseerders van die Iqhawe Week gediskwalifiseer kon word en daarom moes dit reggestel word.

Ben Eybers, vise-president van die Blou Bulle, het aan Rekord bevestig dat die unie reeds besig is met ’n amptelike ondersoek na die aangeleentheid, wat hulle in ’n baie ernstige lig sal hanteer.

Eybers het ook erken dat gefouteer is met die aanvanklike spanne wat gekies is, maar volgens hom kon die unie nie dié fout oorsien nie, aangesien hulle die reëls van die toernooi daarmee sou oortree.

Volgens Eybers is daar reeds besluit dat strenger beheer oor die keuse van spanne vir hierdie toernooi in die toekoms toegepas sal word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button