Puik skole-atletiek by Abrie van Staden presitge atletiekbyeenkoms
Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Staden prestige atletiekbyeenkoms het verlede week oudergewoonte eersteklas prestasie deur sommige van Gauteng se heel beste skole-atlete opgelewer.
Die twintig nuwe byeenkomsrekords wat opgestel is, is ’n goeie getuienis van die kwaliteit van atletiek wat verlede week by Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Staden prestige atletiekbyeenkoms opgelewer is.
Dié byeenkoms gaan steeds van krag tot krag en ses van Gauteng se heel beste atletiekskole het mekaar vanjaar die stryd aangesê by die 22ste aanbieding daarvan.
Reën het Vrydag-oggend oor Pretoria uitgesak en dit was waarskynlik die rede vir die onttrekking van Hoërskool Rustenburg, wat die sewende deelnemer by die byeenkoms sou wees. Die weer het egter betyds opgeklaar en die aksie kon in puik weersomstandighede plaasvind.
Terwyl die Garsies oudergewoonte as gasheer opgetree het, was atlete van Helpmekaar Kollege van Johannesburg, Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg, Hoërskool Oos-Moot, Prestige College van Hammanskraal en Hoërskool Waterkloof in aksie. Enkele atlete van Rustenburg het wel op eie stoom die byeenkoms bygewoon en die beste prestasie van die dag is juis deur ’n Rustie gelewer.
Hoewel ’n baie strawwe program vir die meeste van hierdie atlete in die res van die seisoen voorlê, was daar ’n hele paar puik vertonings. Dit wys dat die atlete reeds op top vorm is, ten spyte van die Desember vakansie, wat ’n paar weke gelede waarskynlik nog prioriteit vir baie was.
Altesaam 24 atlete het byeenkomsrekords oortref. In vier gevalle het meer as een atleet in dieselfde item die rekord oortref, wat beteken dat twintig nuwe rekords volgende jaar op die program sal pryk.
Leandri de Wet van Rustenburg het met haar rekordpoging van 44.52m in die diskus item vir meisies o.14 die beste vertoning van die dag gelewer. Sy was ook die enigste atleet wat tydens die byeenkoms meer as ’n duisend punte (1022) op die bekende ABSA tabel kon verdien.
Ander vertoning wat uitgestaan het was Asande Mthembu van Prestige College se 6,98m in die verspring vir seuns o.16; Wian Kemp van Garsfontein se 13,20s in die 100m hekkies vir seuns o.15; Jean Herbst van Garsfontein se 54,37m in die diskus vir seuns o.17; Reghardt Botha van Garsfontein se 67,63m in die spiesgooi vir seuns o.19; Hannah van Niekerk van Helpmekaar se 43,76s in die 300m hekkies vir meisies o.15; Owen Herbst van Garsfontein se 16,66 in die gewigstoot vir seuns o.15; Celia Janse van Rensburg van Helpmekaar se 42,47m in die diskus én 13,81m in die gewigstoot vir meisies o.16 en Conner Annandale van Helpmekaar se 2m in die hoogspring vir seuns o.16.
Armand van der Walt van Helpmekaar het ook die oë laat rek toe hy as o.15 seun die 100m in 10,98s afgeblits het, terwyl Waterkloof se Juwan Blignaut se tyd van 03:57,76 in die 1500m vir seuns o.19 baie belowend is.
Die byeenkoms is op ’n hoogtepunt afgesluit, toe Garsfontein se o.19 seuns die byeenkomsrekord met ’n puik vertoning laat spat het in die laaste 4x100m aflos wedloop van die dag. Dié vier spoedvrate se tyd was 42.64s.
Helpmekaar se atlete het die beste gevaar in terme van die medaljes wat gewen is met 119 medaljes. Daarna volg Waterkloof (83), Prestige College (80), Garsfontein (73), Oos-Moot en EG Jansen met 27 elk en Rustenburg met een.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



















