Tuks Top 10 aksie voorspel vuurwerke by interhoër byeenkomste
Meer as 50 skole-atletiekspanne het verlede week vanoor die hele land na Pretoria gereis om aan die gewilde Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms deel te neem.
Die gewilde Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms is verlede week in die Tuks Atletiekstadion aangebied.
Hierdie byeenkoms is waarskynlik die grootste van sy soort in Suid-Afrika en deelnemers van meer as 50 skole het vanoor die hele land na Pretoria opgeruk om in die aksie te deel. Soos die naam van die kompetisie aandui, stuur skole hul top atlete om aan dié prestige byeenkoms deel te neem.
Prestige College van Hammanskraal het weer as gasheer by die byeenkoms opgetree.
Ten spyte van die sterk spanne en die nasionale verteenwoordiging by die byeenkoms, het verskeie plaaslike skole weer gewys dat die land se beste skole-atlete waarskynlik steeds in Pretoria gevind sal word.
Die prestasies van die verskillende spanne het ook gewys dat die tafel eerskomende Vrydag weer gedek kan word vir ’n baie opwindende stryd tussen die top plaaslike skole, wanneer die A-bond interhoër byeenkoms plaasvind. Dié byeenkoms vind vanjaar by die Ruimsig stadion in Roodepoort plaas, aangesien die Pilditch stadion in Pretoria weens opgraderingswerk steeds nie gereed is nie.
Skitterende vertonings deur plaaslike skole soos Hoërskool Menlopark, Afrikaans Hoër Seuns- en Meisieskole, Prestige College, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein, Midstream College, Hoërskool Montana, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Centurion by die Tuks Top 10 byeenkoms het gewys dat vanjaar se A-, en B-bond kompetisies in Pretoria weer die puriste gaan tevrede stel.
Altesaam 34 byeenkomsrekords het verlede week by die Tuks Top 10 byeenkoms in die slag gebly.
Drie top prestasies het uitgestaan bo die res. Die dag se beste prestasie het behoort aan ’n Pretorianer. Tian Stoltz van die Hoërskool Overkruin het die oë laat rek toe hy die diskus vir seuns o.15 met ’n reuse afstand van 68,90m (meer as 10m verder as sy naaste teenstander) laat grondvat het.
Ntando Mahlangu van Affies se wentyd van 1:46,09 in die 800m vir seuns o.19 was ook ’n puik rekordpoging.
’n Week of wat gelede sou dit byna onmoontlik geklink het, maar in die diskus item vir meisies o.14 is Menlopark se Cellonika van der Bergh (tweede) en Savannah Visser (vierde) albei getroef deur ’n atleet van Hoërskool Rustenburg. Liandri de Wet het dié item gewen met ’n verstommende afstand van 44.49m. Die kompetisie was egter sterk, want al vier die meisies in die eerste vier plekke het die vorige byeenkomsrekord oortref.
Terwyl Pretoria se A-bond skole mekaar eerskomende Vrydag pak, sal die B- en C-bond byeenkomse volgende week op die baan van Tuks Atletiek in Pretoria aanngebied word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

















