Menlopark ook in swembad weer kampioen
Pretoria se A-; B-; en C-liga swemgalas is verlede week by die Hillcrest swembad in Hatfield afgehandel.
Die Hoërskool Menlopark het hul merkwaardige vertonings van die afgelope paar jaar in twee verskillende swemgalas verlede week herhaal toe hul swemmers weer daarin geslaag het om beide die plaaslike A- en B-ligas te wen.
Menlopark se A-span (770.5 punte) het hul naaste teenstander in die A-liga, Cornwall Hill College (527), gerieflik met meer as 200 punte geklop.
Ná Cornwall Hill het Hoërskool Garsfontein (513) in die derde plek gevolg, terwyl Midstream College (474) vierde was.
Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) het húlle krag in dié sport gewys deur algeheel vyfde en sesde (teen gemengde spanne) te eindig.
In die onderskeie afdelings vir seuns en meisies het Affies (420 punte) eerste geëindig, 19.5 punte voor Menlo se seunspan. AHMP (398 punte) het op hulle beurt die meisies afdeling gewen toe hulle Menlo se meisies met 29 punte geklop het.
Hoërskool Zwartkops (390) was sewende in die spankompetisie, gevolg deur Southdown College (380), Pretoria Boys High School (338.5), Pretoria Girls High School (275), St Mary’s Diocesan School for Girls (255) en St Albans College (162).
– Anders as in atletiek kry die top skole in swem die geleentheid om hul B- en C-spanne in laer ligas se galas in te skryf, waar hulle dan teen ander skole se bestes deelneem.
Dis juis hier waar Menlopark, Affies en AHMP hul krag in dié sport gewys het. Menlopark se B-span (626 punte) het die Pretoria B-liga gewen. Hulle is gevolg deur die Hatfield Christian School (570), Hoërskool Waterkloof (556), Tyger Valley College (507), Hoërskool Montana (482), Curro College Hazeldene (456) en Woodhill College (370).
Affies se B-span het in die B-liga die seunsafdeling gewen, terwyl Hatfield Christian School se span baas was in die afdeling vir meisies met AHMP se B-span in die tweede plek.
Menlopark se diepte in die sport word verder bevestig deur die feit dat hulle selfs ’n C-span vir die C-liga gala ingeskryf het. Dié span het vierdie geëindig in die liga, wat deur die Deutshe Schule Pretoria gewen is. Sutherland High School was derde.
Hoërskool Montana het aan die B-liga deelgeneem en in die gekombineerde span-afdeling vyfde geëindig. Montana se seuns het ‘n paar groot name geklop en vierde geëindig in die seuns-afdeling.
In die C-liga het Hoërskool Overkruin algeheel vyfde gekom. Die vertoning van die Ovies se seuns was ook deurslaggewend. Hulle het tweede geëindig in die seuns-afdeling, waar hulle selfs met die seunspan van die algehele wenners, die Deutshe Schule Pretoria, afgereken het.
Al die swemgalas is aangebied by die Hillcrest swembad in Hatfield.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





















