Local sportSchool sportSport

Nog ‘n plattelandse skool wen die Pretoria C-bond atletiekbyeenkoms

Verlede jaar se tendens is herhaal by vanjaar se Pretoria C-bond atletiekbyeenkoms toe ’n skool uit die platteland met hul teenstanders uit die stad afgereken het.

Net soos verlede jaar is die Pretoria C-bond atletiekbyeenkoms vanjaar weer oorheers deur ’n deelnemende skool van die platteland.

Die Hoërskool Brits het dié byeenkoms verelde week gewen en daarmee afgereken met sewe teenstanders uit die stadsgebiede. Daarmee het Brits verlede jaar se scenario herhaal, toe Hoërskool Erasmus van Bronkhostspruit die plattelandse skool was wat die stadsjapies uitgestof het in dié liga.

Erasmus het terloops verlede week laaste geëindig in die B-bond en sal dus in 2021 weer in die C-bond kompeteer.

Brits (2421 punte) het 44,5 punte voor hul naaste teenstander, Hoërskool Wonderboom (2376.5 punte), geëindig. Daarna volg Hoërskool Uitsig (2075 punte), Curro Hazeldean (2071 punte), Rietondale High School (voorheen Hoërskool Hendrik Verwoerd – 1971 punte), Hoërskool Gerrit Maritz (1945 punte) en Hoërskool Die Wilgers (1719 punte).

HTS John Vorster, wat ook deel is van dié byeenkoms, se seuns het vyfde geëindig met 1009 punte in die seuns-afdeling.

Dié uitslae beteken dat Brits volgende jaar weer terug sal wees in die B-bond, waar hulle in 2019 laaste geëindig het en dus afgeskuif het na die C-bond.

Die Wilgers, wat vanjaar vir die eerste keer in hierdie geselskap deelgeneem het, sal volgende jaar terugskuif na die D-bond, aangesien hulle laaste geëindig het in die spankompetisie.

Gerrit Maritz was vanjaar verantwoordelik vir die aanbieding van die byeenkoms, wat in die Tuks Atletiekstadion op die LC de Villiers sportkampus van die Universiteit van Pretoria aangebied is. Dié skool se organiasie was puik en die program kon seepglad verloop.

Die skool se goeie werk met die organisering van die byeenkoms is gekomplimenteer deur die uitsonderlike vertoning van hul rasieleiers en toeskouers op die paviljoen. Daarvoor is Gerrit Maritz beloon met die geesbeker.

Altesaam 18 byeenkomsrekords het verlede week by dié byeenkoms in die slag gebly – sewe in die meisies afdeling en elf onder die seuns.

Die groot ster van die byeenkoms was Garrick Rees van Curro Hazeldean. Dié jong o.16 ster-atleet het gemaai onder die rekords. Hy het die 400m vir seuns o.16 gewen in ’n baie indrukwekkende tyd van 50,83s. In die 800m was sy nuwe rekordtyd 01:54,60s en hy het ook die rekord in die 1500m verbeter met ’n tyd van 04:02,94s.

Rees is as Senior Victor Ludorum van die byeekoms aangewys vir sy prestasie.

Onder die meisies het die prestasies van Mia de Beer van Brits, wat as Junior Victrix Ludorum aangewys is, uitgestaan. Dié o.14 atleet het rekords laat spat in beide die 400m en 300m hekkies items.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button