Menlopark skoolseun word jongste Protea krieketspeler ooit
Terwyl Die Hoërskool Menlopark reeds verskeie Protea krieketspeelrs opgelewer het, is die jongste toevoeging tot dié groeiende lys name ’n besondere speler wat ’n unieke prestasie behaal het.
Heinrich Badenhorst is ʼn graad 9-leerder aan Die Hoërskool Menlopark, wat soggens ʼn goeie skeut vasberadenheid en toewyding saam met sy koffie neem.
Badenhorst is met marmerbeensiekte gebore. Hierdie seldsame toestand tas sy gehoor aan, wat beteken dat hy gehoorgestremd is.
Ten spyte van Badenhorst se gebrek, stuit hy nie sommer vir enige uitdaging nie. Dit kon hom ook nie keer om van die krieketveld weg bly nie, aangesien hy versot is op dié spel.
Dié talentvole jong krieketspeler het sommer vinnig naam gemaak op die kriekteveld, waar hy veral as bouler uitblink.
Badenhorst se harde werk is verlede jaar met ’n plek in die Titans se Dowe-krieketspan beloon. Hy is vanjaar weer in hierdie span opgeneem en kon sy bydrae maak om die Titans te help om as wenners uit die stryd te tree by die onlangse interprovinsiale toernooi vir dowe krieketspanne.

Foto: Verskaf
Na afloop van die toernooi is Badenhorst in die senior mans Proteaspan vir dowes opgeneem op die ouderdom van net 15 jaar.
Dit is reeds bevestig dat Badenhorst die jongste speler is wat nog in dié span ingesluit is.
Hierdie Proteaspan sal in September in Quatar aan die T20 wêreldbeker vir dowe krieketspelers deelneem.
Badenhorst word met reg beskou as ’n inspirasie vir almal rondom hom. Sy toewyding en deursettingsvermoë dwing oral respek af.
By Die Hoërskool Menlopark is Badenhorst deel van die o.15A-krieketspan wat ook hierdie jaar die Finsbury-kampioene was.
Volgens Arno van Wyk, hoofbestuurder van Menlo Krieket, is Badenhorst die tiende Protea-speler wat Menlo oplewer. Sy naam word gevoeg by name soos Heinrich Klaasen, Theunis de Bruyn, Rassie van der Dussen en Suné Luus.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
