Oos-Moot skop Noordvaal toernooi af met puik oorwinning
Hoërskool Oos-Moot het hul aanslag op die Skild-afdeling van die Noordvaalbeker toernooi met ’n puik oorwinning teen een van die sterk skole in die liga afgeskop.
Hoërskool Oos-Moot se droom om vanjaar hul prestasie van 2018 te herhaal toe dié skool se eerstespan die Skild-afdeling van die VirsekerBeker toernooi gewen het, het Saterdag op hul tuisveld in die Moot op die regte noot afgeskop.
Die Oosies het ’n taai stryd teen Hugenote Hoërskool van Springs met 15-10 gewen in hul eerste ligabepaling in die Skild-afdeling van dié toernooi, wat vanjaar bekend sal staan as die Noordvaalbeker kompetisie.
Hugenote is vooraf geteiken as een van die Oosies se moeilikste teenstanders in die reeks en dit was belangrik om in die tuis-wedstryd teen die Oosranders ’n goeie fondament vir die res van die seisoen te lê.
Die aksie op die veld het sommer gou bewys dat dit ’n stryd tussen twee baie goeie spanne sou wees en dat elke moontlike geleentheid om punte aan te teken deurslaggewend kon wees teen die einde.
Hoewel die besoekers eerste punte aangeteken het met ’n verdoelde strafskop, was dit die Oosies se wakker binnesenter, Gideon van Rooyen, wat eerste die doellyn kon haal toe hy verskeie verdedigers geklop het met ’n solo-lopie om sy span se rekening te open.
Oos-Moot het stelselmatig ook voorlangs sake begin oorheers en kort voor rustyd was dit die woelige haker, Ryan Scott, wat kon afrond ná ’n lynstaan dryfbeweging. Dié drie het die rustyd telling op 10-3 in die guns van die tuisspan te staan laat kom.
Kort na rustyd het beide spanne hul intensiteit verhoog, maar oorywerigheid op die verdediging het ook geelkaarte na albei kante veroorsaak. Oos-Moot se voorspelers kon egter hul intensiteit positief aanwend en toe Scott sy tweede drie van nog ’n goeie lynstaan-dryfbeweging druk, wou dit met die telling op 15-3 lyk of die koeël deur die kerk is.
Soos die telling aandui het die Oosies se skoppers ongelukkig gesukkel en ten minste 12 punte het verlore gegaan met onsuksesvolle skoppe na die pale. Dít het onnodige druk op die span geplaas en toe Hugenote halfpad deur die tweede helfte self ’n verdoelde drie gaan druk, was die uitslag skielik in die weegskaal.
Hierna het Oos-Moot se karakter en die goeie leierskap van Regardt Jordaan egter die wa deur die drif getrek. Hugenote het in die laaste tien minute aanhoudend aangeval, maar die manne van Oos-Moot se verdediging was rotsvas en toe die eindfluitjie blaas kon hulle die oorwinning van 15-10 behoorlik vier.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




