Local sportSchool sportSport

Waterkloof nog onoorwonne in Noordvaal reeks, Garsfontein bons terug, en Affies kry pak

Op die skolerugby front is Garsfontein terug op die wenpad, Waterkloof is nog onoorwonne in die Noordvaal reeks en Affies het paskslae gekry by hul ou aartsvyand uit Bloemfontein.

Nadat Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan verlede week hul onoorwonne rekord vir die seisoen moes verbeur, toe hulle in ’n Noordvaal Skolereeks wedstryd teen Hoërskool Monument van Krugersdorp vasgeval het, kon hulle daarin slaag om die afgelope naweek teen een van hul bure terug te bons met ’n goeie oorwinning.

Die Garsies, wat teen Monnas erg deur beserings getyster is en nie op volle sterkte was nie, het Saterdag teen Hoërskool Menlopark skitterende rugby gespeel om uiteindelik met 34-8 te wen.

Garsfontein se grondslag is weer deur hul pak voorspelers gelê, waar Menlopark veral in die vaste skrums en lynstane gesukkel het om hond haaraf te maak.  Hulle met met tye ook nie raad gehad met die Bere se dryfspel vanaf lynstane nie en Garsfontein het verskeie drieë op hierdie manier gedruk om die telbord aan die rol te hou.

Agter ’n oorheersende pak kon die Garsie Bere se agterlyn genoeg kans kry om aan te val en stelselmatig het die gapings begin kom, wat uiteindelik ook drieë kon word.

Dit moet genoem word dat Menlopark nie ’n swak span is nie. Hulle het soms goeie rugby gespeel, maar het dalk te veel op die krag en spoed van enkele individue staatgemaak, terwyl Garsfontein weer as ’n span puik saamgewerk het.

Menlo het egter enduit geveg, wat ’n goeie teken is en ook een van hul nuwe afrigter, Nico Luus, se brandmerke is. Dis dalk bietjie laat vir hierdie seisoen om hul titel as Noordvaal kampioen te verdedig, maar gee maar vir Luus genoeg kans om sy stempel af te druk. Menlo sal beslis groei onder sy leiding.

– Intussen het Hoërskool Waterkloof hul onoorwonne rekord in die Noordvaal reeks behou deur Hoërskool Marais Viljoen van Alberton in ’n weg-wedstryd met 17-11 te klop.

Die Klofies beleef ’n baie goeie seisoen en het vroeg in April op die Kearsney College (KwaZulu-Natal) se Paastoernooi laas ’n nederlaag gely.

Eerskomende naweek sal Cobus van Dyk se manne egter hul storie moet ken wanneer hulle in nog ’n weg-wedstryd teen Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg te staan kom. Die Oosranders het die afgelope naweek met die sterk span van Hoërskool Noordheuwel afgereken en gaan ’n moeilike neut wees om te kraak.

– Intussen het Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) hul tweede nederlaag van die seisoen gely toe Grey Kollege van Bloemfontein hule die naweek met 43-24 geklop het.

Die wedstryd sal nie net onthou word vir die puik rugby wat op die veld gespeel is nie, maar ook vir die groot belangstelling wat dit uitgelok het. Sowat 15000 toeskouers het op Affies se rugbystadion toegesak om die skouspel gade te slaan. Sover bekend is dit die grootste post-Covid skare wat nog by ’n skolerugby wedstryd opgedaag het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button