Local sportSchool sportSport

Affies vermorsel Waterkloof met tweedegrootste oorwinning ooit in dié derby

Terwyl Affies die afgelope naweek hul ou vyand, Waterkloof, in ’n vriendskaplike wedstryd ’n behoorlike rugbyles geleer het, lyk dit of Garsfontein ’n alleenstryd gaan stry om Pretoria se vaandel te dra in die Noordvaal Beker-toernooi.

Terwyl die Wes-Kapenaars spog dat die afgelope naweek se Paarl derby tussen Hoër Jongenskool Paarl (beter bekend as Paarl Boys High) en Paarl Gimnasium die “grootste skolerugby derby ter wêreld” is, het liefhebbers van skolerugby in Pretoria ook Saterdag die geleentheid gekry om ’n besondere derby te beleef.

Meer as 7000 toeskouers het op die sportgronde van Hoërskool Waterkloof saamgetrek om die grootste post-Covid skolederby in die Jakarandastad te beleef,waarin die tuisskool teen Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) te staan gekom het.

Ongelukkig het hierdie wedstryd uit die oogpunt van ondersteuners van Waterkloof in ’n reuse antiklimaks ontaard, toe Affies tien drieë ingeryg het om die tuisspan met 60-15 te oorompel.

Dit was amptlik die tweedegrootste pakslae wat Waterkloof ooit van Affies gekry het in die 45 wedstryde wat dié twee top skole sedert hul eerste kragmeting in 1987 teen mekaar gespeel het. Slegs Affies se oorwinning van 75-6 in 1993 was groter. Affies het hul rekord teen Waterkloof daarmee opgestoot na 35 oorwinnings in die genoemde 45 kragmetings, wat beteken dat Waterkloof in 35 jaar nog net tien wedstryde teen Affies kon wen.

Affies het sommer gou gewys dat hulle Waterkloof toe gereis het met een doel – om hul teenstanders behoorlik te karnuffel. Dít het hulle behoorlik gedoen met ’n pak voorspelers wat vanuit die staanspoor oorheers het in alle aspekte van die spel.

Dit het die besoekers ses minute geneem om hul eerste drie te druk en teen rustyd was hulle reeds met 24-10 voor. Op daardie stadium het Affies reeds vier drieë gedruk, maar die getrouste Waterkloof ondersteuners het nog hoop gehad, veral toe hul span kort voor rustyd self die doellyn kon oorsteek.

Ná die omdraaislag was dit egter hoofsaaklik eenrigting-verkeer, behalwe vir die keer toe die tuisspan hul tweede drie gaan druk het vanaf ’n lynstaan dryfbeweging.

Waterkloof het moedig probeer, maar hulle was nooit werklik ’n faktor in die wedstryd nie. Affies was (veral agterlangs) eenvoudig groter, sterker, vinniger en vaardiger as hul moedige teenstanders. Om sake te vererger was Waterkloof se verdediging soms regtig sub-standaard teen die goed-georganiseerde aanvalle van Affies.

– Hoërskool Garsfontein het hul puik seisoen tot dusver Saterdag voortgesit deur Hoërskool Noordheuwel van die Wesrand met 42-32 te klop in ’n Noordvaal beker wedstryd.

Die Garsie Bere is na dese die enigste plaaslike span wat nog Pretoria se vlag kan dra in hierdie toernooi, aangesien Waterkloof en Menlopark nie een meer ’n kans staan om die uitspeelrondtes te haal nie.  Garsies voltooi eerskomende naweek hul ligaverpligtinge met ’n taai stryd wat wag teen Dr. EG Jansen van Boksburg.

– Nadat Hoërskool Menlopark verlede week vriend en vyand verras het deur Dr. EG Jansen te klop, het hulle Saterdag vasgeval teen een van die sukkelaars in die kompetisie vanjaar.

Menlopark was die verdedigende kampioen in die Beker-afdeling (Makro skole) van die toernooi, maar sal nie die kans kry om hul titel te verdedig nie. Die Parkies het Saterdag met 13-20 teen Hoërskool Marais Viljoen vasgeval.

– Intussen het Hoërskool Die Wilgers, pasgekroonde kampioen van die Stadsbeker (afdeling 3, medium skole), hul aanslag op die Noordvaal trofee in hul afdeling op ’n suksesvolle noot begin.

Die Wilgers het Hoërskool Kanonkop van Middelburg in Mpumalanga die afgelope naweek met 41-12 geklop.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button