Local sportSchool sportSport

Affies neem behoorlik wraak ná drie jaar, Garsfontein bly Pretoria se hoop in Noordvaal reeks

Terwyl Affies behoorlik wraak geneem het teen hul Engelse bure vir die loesing wat hulle in 2019 teen dié skool gely het, het Garsfontein vir ’n tuiswedstryd in die halfeindrondte van die Noordvaal Beker toernooi gekwalifiseer.

Twee jaar van rugby-droogte weens Covid regulasies het verloop voor die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) uiteindelik Saterdag wraak kon neem op hul aartsvyand, Pretoria Boys High, ná die skoknederlaag wat hulle in 2019 teen hul Engelse bure gely het.

Affies se eerstespan het Boys High Saterdag met 54-19 vermorsel.

Boys High het Affies in 2019 verras deur hulle behoorlik pak te gee (38-21), nadat Affies dié dekade-oue derby – die oudste skolerugby derby noord van die Vaalrivier – vir tien jaar oorheers het.

Die “Boere” van hierdie “Boere-oorlog”, soos die rugby-derby soms genoem word, het tussen 2009 en 2018 twaalf keer agtereenvolgens met die “Engelse” afgereken. Hierdie twaalf oorwinnings was soms baie groot en het selfs vier vyftigtalle ingesluit.

Saterdag se derby tussen die twee skole was die 117de sedert 1923. Daar was enkele jare waartydens hulle tweemaal in een seisoen teen mekaar gespeel het. Van dié 117 wedstryde het Affies nou 66 gewen, Boys High het 42 keer geseëvier en nege wedstryde het gelykop geëindig.

Hierdie tradisieryke derby lok gewoonlik groot skares en Saterdag was geen uitsondering nie. Sowat 15000 toeskouers het elke moontlike sit- of staanplekkie rondom Boys High se bekende ‘Brooks Field’ volgepak. Die derby word volgens tradisie nie net deur albei skole se leerlinge, asook ouers en vriende van die spelers bygewoon nie. Daar is gewoonlik duisende oud-leerlinge van albei skole wat dié naweek in hul dagboeke aanteken om hul alma mater te ondersteun.

Vir meer as die helfte van die seuns in die twee skole was die derby vanjaar ook besonders, aangesien hulle vir die eerste keer deel kon wees van al die tradisie daaraan verbonde. So byvoorbeeld kon toeskouers by ’n klubrugby wedstryd Vrydagaand op die B-veld van Loftus Versfeld hoor hoe die twee skole hul “krygkrete” op ’n nagwaak uitskree. Volgens tradisie word hierdie krete en sang deur elke skool op hul onderskeie terreine uitgevoer, maar in só ’n wyse dat die ander dit van oorkant die treinspoor en Universiteitsweg, wat die twee skoolterreine skei, kan hoor.

Nog aksie tydens Saterdag se groot Pretoria-skolerugby derby tussen Affies en Boys High.
Foto: William Brown

Soos gewoonlik het Satedag se derby nie net gegaan oor die stryd tussen die twee eerstespanne nie. Die dag se rugbyfees het uiteindelik 20 wedstryde bevat. Die twee skole het mekaar op o.14, o.15 en o.16 vlak met vier spanne elk gepak, terwyl daar agt ope-wedstryde (eerstespan tot agtste span) plaasgevind het.

Die merkwaardige aspek van Saterdag se “oorlog” is dat Affies elke moontlike veldslag gewen het. Hulle het Boys High dus in 20 wedstryde geklop sonder om ’n enkele wedstryd te verloor.

Affies se eerstespan het voortgebou op hul vertoning verlede week teen Waterkloof, toe hulle die bal hoofsaaklik die werk laat doen het om Boys High van hul voete af te hardloop en die drieë in te ryg vir die groot oorwinning.

– Intussen het Hoërskool Garsfontein Saterdag seker gemaak dat hulle vir die uitspeelfase van die Noordvaal Beker-toernooi kwalifiseer, toe hulle Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg met 43-15 pakslae gegee het.

Die Garsies se Bere het nog net teen Hoërskool Monument verloor in die toernooi en afhangende van wat volgende week in Monnas se laaste liga-bepaling gebeur, sal Garsfontein òf teen Hoërkool Noordheuwel òf wéér teen EG Jansen moet speel in die toernooi se halfeindstryd.

– Hoërskool Waterkloof het hul seisoen afgesluit met ’n groot oorwinning van 65-0 teen HTS Middelburg. Hoërskool Menlopark, die verdedigende kampioen in hierdie toernooi, was egter minder gelukkig en hulle het met  10-38 teen Monument verloor.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button