Midstream Kollege dring deur na eindstryd in Noordvaal reeks
Die Midstream Kollege in die verre suide van Centurion se eerste rugbyspan speel eerskomende naweek op hul tuisveld in die eindstryd van Afdeling 2 van die Noordvaal Toernooi.
Terwyl die Midstraem Kollege enkele jare gelede reeds op die atletiekbaan gewys het dat hulle as groeiende skool ’n faktor geword het om mee rekening te hou op die sportveld, het hul eerste rugbyspan vanjaar ook deurgebreek as moontlike kampioen in die Noordvaal streek.
Dié span het Saterdag op hul tuisveld vir die eindstryd van die Noordvaal Toernooi (Afdeling 2 – voorheen bekend as die afdeling vir Grootskole in die VirSeker Beker reeks) gekwalifiseer deur met Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi af te reken in ’n taai en spannende halfeindstryd. Die eindtelling was 23-18 in Midstream se guns, terwyl die besoekers uit die Bosveld teen rustyd nog met 10-13 voor was.
’n Week tevore het dié span van Midstream daarin geslaag om Hoërskool Piet Retief uit Mpumalanga met 32-17 in die Noordvaal kwarteindstryd te verslaan.
Midstream het vir die uitspeelfase in die Noordvaal streek gekwalifiseer nadat hulle vroeër as die Blou Bulle se Stadsbeker kampioen gekroon is in hierdie liga. In die Stadsbeker eindstryd het Midstream se eerstes met Hoërskool Pretoria-Noord (26-17) afgereken.
Daarna het die Noordvaal liga se uitklop fase gevolg, waar Midstream vir die kwarteindstryd gekwalifiseer het deur Hoërskool Hans Strijdom van Naboomspruit met 24-15 te klop.
Eerskomende Satedag om 12:25 breek die groot oomblik dus aan vir die helde van Midstream Kollege, wanneer hulle Hoërskool Merensky van Tzaneen weer op hul tuisveld in die suide van Centurion pak.
Merensky is vroeër as die Limpopo kampioen in hierdie afdeling gekroon. Dit beteken dat die Bloubul kampioen en die Limpopo kampioen mekaar Saterdag sal ontmoet vir die groot eindstryd om die Noordvaal kampioen in Afdeling 2 te kroon.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
