Local sportSchool sportSport

Garsie matrikulant steeds op koers na sy rekord drome as hoogspringer

Pretoria se silwermedalje wenner by die pas afgelope IAAF o.20 atletiek wêreldkampioenskap in Colombië, lyk steeds stewig op koers om sy drome van wêreldglorie as hoogspringer te verwesenlik.

Hoewel Suid-Afrika ’n buitengewoon groot groep atlete na die pas afgelope IAAF o.20 atletiek wêreldkampioenskap in Colombië gestuur het, het dié groep uiteindelik slegs met vyf medaljes teruggekeer huistoe – twee goud, een silwer en twee brons.

Onder die medaljewenners was daar twee plaaslike matriekseuns van Pretoria. Benjamin Richardson van die Tuks Sportskool het die bronsmedalje in die 100m vir mans met sy tyd van 10.12 sekondes gewen, terwyl Hoërskool Garsfontein se Brian Raats kan spog met ’n silwer medalje, nadat hy tweede geëindig het in die hoogspring met sy hoogte van 2,10meter.

Heel ironies was Raats se hoogte in vanjaar se kampioenskap 04cm laer as die hoogte waarmee hy verlede jaar as 17-jarige met ’n vyfde plek tevrede moes wees tydens dieselfde kampioenskap, wat toe in Kenia aangebied is.

Brian Raats het ‘n helde-ontvangs gehad by die Hoërskool Garsfontein, nadat hy teruggekeer het van die IAAF o.20 atletiek wêreldkampioenskap in Colombië waar hy die silwer medalje in die hoogspring item gewen het.
Foto: Hoërskool Garsfontein.

Dis ook 16 sentimeter laer as sy persoonlike beste van 2.26m, wat hy in April vanjaar tydens ’n ASA Grand Prix byeenkoms in Potchefstroom behaal het. Met dié sprong kon hy nie net die Suid-Afrikaanse skole-rekord agter sy naam skryf nie, maar dit het hom ook sewende geplaas op die ranglys vir Suid-Afrikaanse hoogspringers se beste prestasies ooit.

Raats is ook die SA o.17 rekordhouer, nadat hy verlede jaar reeds sy vorige persoonlike beste hoogte van 2,20 behaal het.

Dié lenige Garsie matrikulant jag egter steeds die junior Suid-Afrikaanse- en Afrika rekord van die voormalige junior- én senior wêreldkampioen en Suid-Afrikaanse rekordhouer, Jacques Freitag.

Freitag se junior Suid-Afrikaanse rekord staan op 2.31m, wat beteken dat Raats slegs 5cm op sy persoonlike beste sal moet verbeter om dit te ewenaar. Daarvoor het hy as 18-jarige, wat volgende jaar steeds as junior kan deelneem, nog genoeg tyd om sy naam in die geskiedenisboeke te verewig.

Tydens ’n gesprek met Rekord vroeër vanjaar het Raats sonder skroom sy droom bekendgemaak om Suid-Afrika se beste hoogspringer ooit te word. As sy stelselmatige vordering oor die afgelope paar seisoene as riglyn kan tel, is hy beslis op pad om daardie drome te verwesenlik.

Hy het sy persoonlike beste hoogte tussen Desember 2020 en April 2022 reeds met 20cm verbeter. Dit is inderdaad beter as Freitag, wat op 17 reeds 2,25 kon spring, maar daarna in ses jaar tot op die ouderdom van 23, toe hy sy SA rekord opgestel het, met slegs 13cm verbeter het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button