Oos-Moot op besondere wyse as Noordvaal Skild kampioen gekroon
Die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan is die afgelope naweek as nuwe kampioen in die Noordvaal Skild-toernooi gekroon, na ’n skitterene weg-oorwinning oor Hoërkool Klerksdorp in die eindstryd.
Die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan van 2022 sal na dese in dieselfde heldegalery van dié skool gereken word as die legendes van 1981 en 2018.
Laasgenoemde twee spanne het onderskeidelik die destydse Direkteurstrofee (Transvaal) en die Virsekerbeker Skild-afdeling gewen.
Christiaan Gouws en Tjaart Naudé se manne het hul name in die annale van die skool verewig deur die afgelope naweek op besondere wyse met Hoërskool Klerksdorp af te reken om as nuwe kampioen in die Noordvaal Skild-toernooi gekroon te word.
Oos-Moot se manne moes die moeilike roete in die uitspeelfase volg, nadat hulle derde op die punteleer in die liga geëindig het. Hulle moes dus weg van die huis in beide die halfeind- en die eindstryd speel.
Verlede week het hulle in die halfeindstryd teen Hugenote in Springs sewe drieë gedruk om met 41-12 te wen.

Foto: Jorrie Jordaan
Toe kom die groot uitdaging van die eindstryd en weer moes daar gereis word – hierdie keer na Noordwes, waar die wedstryd op Klerksdorp se veld beslis is.
Gouws en Naudé het besef dat hul seuns goeie rugby kan speel, maar dat hul probleem waarskynlik sielkundig is. Die kern van die span kon sedert hul groot nederlaag van 0-50 in 2018 as o.14 span nog nooit teen Klerksdorp in die Noordvaal liga wen nie. Twee weke voor die eindstryd het hulle in die ligafase van die Noordvaal Skild-toernooi ook met 13-17 teen die Noordwesters verloor.
Daar is besluit om die hulp van die Bulls se “kopdokter”, dr. Henning Gericke, in te roep. Hy het verlede week met die seuns gewerk en volgens getuies wondere verrig vir die kohesie in die span. Daar is gekonsentreer op dinge soos om op die veld gedurig in kontak met mekaar te bly en baie beter te kommunikeer tydens die wedstryd ten einde die teenstanders met ’n groot spanpoging te verslaan.
Die span se hele aanslag is verander, selfs wat hul voorbereiding voor die wedstryd betref. Toe hulle boonop op onortedokse wyse in ’n horisontale lyn as eenheid op die veld storm voor die afskop, was die tekens daar dat iets besonders besig is om te gebeur.
Benewens hierdie sielkundige voordeel wat Oos-Moot se manne geniet het, was die strategie van hul wedstrydplan ook in die kol. Terwyl Klerksdorp verwag het dat hulle in die tweede helfte saam met die wind skoprugby sou speel, het die Oosies die bal aanhou dra en sodoende ’n rustyd agterstand van 7-17 omskep in ’n voorsprong van 25-20 laat in die wedstryd.
Daarna moes die Oos-Moot manne weer hul karakter en fokus bewys deur soos tiere te verdedig toe Klerksdorp aanhoudend aangeval het in die laatse paar minute van die wedstryd.
Uiteindelik kon die Pretorianers feesvier ná die eindfluitjie en hul onwaarskynlike oorwinning sal nog lank onthou word deur almal wat dit beleef het.
’n Trotse Gouws, wat ook Sporthoof van Oos-Moot is, het aan Rekord gesê dat hy glo hierdie prestasie is net die begin van baie groter dinge.Hy droom steeds daarvan dat die skool as ’n gerekende sportkrag in Pretoria sal groei.
Gouws het groot lof gehad vir sy spelers, die leierskorps in die span en sy kollegas in die spanbestuur. Behalwe vir Naudé is daar ook Amy Putter (biokenetikus), Danie Coetzee (kondisionering) en Marais Ferreira (spanbestuurder).
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
