Naka Bulle pak Centurion in Carltonbeker eindstryd
ABE Midas Naka Bulle verdedig eerskomende Saterdag op hul tuisveld in die Moot hul titel as Carltonbeker kampioen teen Centurion, nadat dié twee klubs die halfeindstryde van die kompetisie die afgelope naweek gewen het.
Daar was Saterdagaand vreugdevure in die Moot en in Centurion, maar in Groenkloof en verder noord in die Bosvelddorpie Northam, het die koppe gehang.
Die rede vir hierdie emosies is die feit dat die rugbyklubs van ABE Midas Naka Bulle (40-19) en Centurion (28-25) Saterdagaand met oorwinnings seker gemaak het dat hulle eerskomende Saterdag in die eindstryd van die World Sports Betting Carltonbeker toernooi sal ontmoet om die kampioen vir 2022 te bepaal.
– In Groenkloof op die veld van Harlequins het Centurion die momentum van hul goeie vertoning verlede week, toe hulle ABE Midas Naka Bulle se “volmaakte” seisoen bederf het, beslis goed gebruik om Quins se harte te breek.
Centurion het verras deur van die begin af die tempo van die wedstryd op te jaag en eerder met die bal te hardloop, terwyl daar verwag is dat hulle dalk vir gebiedsvoordeel sal skop om dan met hul groot pak voorspelers te speel.
Hierdie verrassende aanslag het binne die eerste vyf minute vrugte afgewerp en tot regtervleuel Noko Malatji se eerste drie gelei.
Hendrik Mulder het Harlequins in die prentjie gehou met twee strafdoele, maar daarna het Centurion wel hul voorspelers gebruik om met dryfspel die geleentheid vir flank Reynhardt Schutte te gee om te druk.
Agter ’n pak voorspelers wat al hoe beter gespeel het, kon Centurion se skakelpaar Tiaan Meintjies en Ian Trollip sake begin dikteer en Malatji se tweede drie het gekom toe Centurion daarin kon slaag om vir hom spasie te skep met ’n agterlynbeweging vanaf ’n lynstaan.
Teen rustyd was Centurion met 18-6 voor en dit kon met ’n bietjie geluk selfs 24-6 gewees het, aangesien Trollip aldrie die doelskoppe verbrou het. Kort na rustyd het hy drie punte met ’n strafdoel bygevoeg vir ’n voorsprong van 15 punte. Dít het beteken dat die tuisspan in die tweede helfte – met die druk wat slegs ’n uitspeelwedstryd kan bring – die telbord moes jaag.
Toe die drieëvraat op regtervleuel, Curtley Brinkhuis, boonop halfpad deur die tweede helfte in die hoek oorduik, was die druk op Harlequins ondraaglik, want hulle moes drie keer gaan druk in 20 minute, terwyl Centurion se verdediging heel middag besonder waterdig was.
Harelquins het dapper geveg en met twee drieë die voorsprong van die besoekers tot drie punte laat krimp, maar uiteindelik het die horlosie en Centruion gewen.
– In die Moot het ABE Midas Naka Bulle hulself goed reggeruk na verlede week se terugslag teen Centruion en sommer binne die eerste drie minute is skrumskakel Jack Hart oor vir die eerste van sy twee drieë.
Na ’n halfuur se spel het die tuisspan reeds drie keer agter die doellyn gekuier en dit wou lyk of hulle die Bosvelders baie maklik sou oorrompel.
Northan se Rhinos het egter kort voor rustyd twee keer ná dryfbewegings van lynstane gaan druk en die skare herinner hoe goed hulle met dié aspek van die spel is.
’n Drie deur heelagter Ruben Beytel vir ABE Midas Naka Bulle het die rustydtelling op 26-12 in hul guns tot stand gebring.
Na die ruskans het die manne van die Moot weer die tempo van die wedstryd opgejaag en twee keer gaan druk. Hoewel Northam hard probeer het en in die doodsnikke ’n troosdrie kon druk, was hulle nooit werklik ’n bedreiging vir die verdedigende kampioen nie.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram








