Klofies se Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms lewer wêreldklas vertonings
Hoërskool Waterkloof se vierde Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms het oudergewoonte aan besonder hoë standaarde voldoen, terwyl prestasies gelewer is wat liefhebbers van skole-atletiek met groot verwagting laat uitsien na die res van die seisoen.
Sedert die Hoërskool Waterkloof se Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms in 2019 ingestel is, het dit bekend geword as ’n geleenteheid waar eersteklas skole-atletiek opgedis word.
Vanjaar is die vierde uitgawe van hierdie byeenkoms vir die tweede jaar agtereenvolgens op die skool se eie terrein aangebied. Drie spogskole uit Johannesburg – Hoërskool Randburg, Rand Park High School en ’n heelwat kleiner span van die privaatskool, St Stithians College – was saam met die top atletiek-krag uit die Oos-Rand, Hoërskool Kempton Park, die Klofies se gaste.
Vanjaar was dit die meisies se beurt om die top prestasies by die byeenkoms te oorheers, met al vier die nuwe rekords wat deur meisies opgestel is. Hoewel dit ook te wagte sou wees dat rekords in die baanitems, wat byna almal in die verlede op ’n tartanbaan opgestel is, moeilik oortref sou word, is drie van die vier nuwe rekords deur naellopers aangeteken.
’n Atleet van Randburg het die beste prestasie van die dag gelewer. Dis nog vroeg in die seisoen, maar Mignon la Grange van Randburg het reeds ’n vertoning gelewer wat volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd is. Dié o.17 meisie het die gewigstoot item met ’n nuwe rekord en wêreldklas-afstand van 16,92 meter gewen.
Nog ’n top atleet by die byeenkoms was Charné Vermeulen van Randburg, wat twee skitter prestasies in die naelope vir meisies o.17 gelewer het. Haar nuwe rekordtyd van 24,15 sekondes in die 200m het aan haar 949 punte op die APE tabel besorg, wat ook ’n wêreldklas prestasie is. Vermeulen se tyd van 11,89 sekondes (903 APE punte) in die 100m behoort haar onder die land se top o.17 atlete te plaas.
Lenique Vogel, ’n o.14 meisie van Waterkloof, het ook in die kort naelloop item met ’n tyd van 12,28 (886 APE punte) gesorg vir ’n nuwe rekord. Ter wille van perspetief kan genoem word dat sy met dié tyd beide die kort naellope vir meisies o.15 en o.16 ook sou gewen het.
Wesley Badenhorst van Waterkloof wat die beste seuns-atleet van die byeenkoms met twee puik prestasies in velditems. Sy afstand van 59,84 meter (977 ATP punte) in die diskus item plaas hom tussen die wêreld se bestes in sy ouderdomsgroep. Daarby het hy die gewigstoot ook gewen met ’n afstand van 18,10 meter (947 ATP punte), ’n prestasie wat hom onder die land se beste juniors sal laat resorteer.
Die Klofies se span het beïndruk met hul diepte, wat hulle op die dag kop en skouers bo hul gaste laat uitstaan het. Hierdie feit voorspel ’n goeie vertoning vir dié skool tydens die plaaslike Jakaranda (A-bond) interhoër, wat later vandeesmaand sal plaasvind.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to [email protected] or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram







