Hoërskool Eldoraigne ná agt jaar terug in A-bond
Twee skole uit die suide van die Tshwane Metro het Donderdag se Pretoria B-bond atletiek interhoër, wat ’n paar jaar al bekendstaan vir die stryd tussen skole uit die suide en die noorde van die stad, op die telbord oorheers en hulle was in ’n kwaai stryd gewikkel om met die louere weg te stap.
Agt jaar na die Hoërskool Eldoraigne in 2016 hul Pretoria A-bond atletiek status verloor het, het hulle Donderdag op die Pilditch baan uiteindelik daarin geslag om dié status terug te wen.
Die Eldo atlete het die afgelope agt jaar soms baie naby daaraan gekom om hul status terug te wen, maar is telkens net-net deur die B-bond wenners van die afgelope agt jaar geklop, terwyl hulle by verskeie geleenthede met die tweede plek tevrede moes wees.
Om die oorwinning vanjaar ekstra soet te maak, het Eldoraigne boonop ook die Geesbeker gewen met hul ondersteuners se vertoning op die paviljoen.
Eldoraigne (2456.5 punte) was regdeur die dag in ’n kwaai stryd gewikkel met hul buurskool, Hoërskool Centurion (2330 punte), maar met ’n puik eindpoging in die aflos wedlope, waar hulle in agt uit die tien aflosse medaljes gewen het, kon die Eldo atlete die oorwinning verseker.
Centurion is gevolg deur Hoërskool Overkruin (2151.5); Sutherland High School (2111.5); Hoërskool Akasia (1934); Prestige College van Hammanskraal (1913.5); Hoërskool Brits (1908) en Hoërskool Pretoria-Noord (1849).
Eldoraigne se meisies (1340.5 punte) het die span gedra met hul puik vertoning teenoor Centurion (1176); Overkruin (1023.5); Brits (1011); Akasia (979); Sutherland (972); Pretoria-Noord (958.5) en Prestige College (882.5).
Centurion (1154 punt) het die seuns-afdeling gewen, terwyl Sutherland (1139.5) tweede geëindig het. Overkruin (1128) se seuns was derde, gevolg deur Eldoraigne (1116); Prestige College (1031); Akasia (955); Brits (897) en Pretoria-Noord (890.5).
Pretoria-Noord sal dus volgende jaar plek moet maak vir Curro Hazeldean, wat ’n dag tevore die C-bond byeenkoms gewen het.
Altesaam tien B-bond rekords is tydens Donderdag se byeenkoms verbeter, terwyl daar verskeie ander atlete was wat puik prestasies gelewer het, hoewel hulle net-net ’n rekord misgeloop het.
Die groot ster van die byeenkoms wat Tumi Ramokgopa van Prestige College, wat twee wêreldklas prestasies behaal het in die 100m hekkies en 400m hekkies vir meisies o.17. Haar nuwe rekordtyd van 13,49s in die 100m hekkies is 959 punte op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd, terwyl sy 971 APE punte verdien het met haar rekordtyd van 59,83s in die 400m hekkies.
Ramokgopa het boonop ook 928 APE punte verdien met haar oorwinning in die 200m vir meisies o.17 in ’n tyd van 24.68s.
Nhlapo Sibongakonke van Prestige College het 905 APE punte ingesamel met sy rekordtyd van 53.55s in die 400m hekkies vir seuns o.19.
Nog ’n Prestige College atleet, Njabulo Hlatshwayo, se nuwe rekordtyd van 04:03,22min die 1500m vir seuns o.17 is 901 APE punte werd.
Die beste prestasie in ‘n veld item is behaal deur Jeandre Jacobs van Eldoraigne. Haar rekord afstand van 14,76 het vir haar 921 APE punte verseker.
Ramokgopa is na afloop van die byeenkoms as Senior Vitrix Lodorum aangewys, terwyl Hlatshwayo die Senior Victor Lodorum was.
Vumimus Yedwa, ook van Prestige College, is aangewys as Junior Victor Lodorum, nadat hy die 1500m en die 3000m (in ’n nuwe rekordtyd) vir seuns o.15 gewen het.
Leana Bezuidenhout van Pretoria-Noord, wat beide die 100m en 200m vir meisies o.15 gewen het, is die Junior Victrix Lodorum.
Die byeenkoms, wat al ’n paar jaar as die Noord vs Suid interhoër bekendstaan weens die samestelling van die deelnemende skole, is deur Hoërskool Overkruin aangebied.
Die Burgemeester van die Tshwane Metro, Cilliers Brink, het ook die byeenkoms bygewoon. Tydens ’n spreekbeurt het hy skole in die stad, hul personeel en ouers bedank vir die bydrae wat hulle lewer om atletiek as skolesport gesond te hou. Volgens Brink het die goeie toestand van die Pilditch atletiekstadion en die instandhouding van hierdie waardevolle fasiliteit baie te doen met skole-atletiek, wat ’n groot bydrae lewer om die middele te verskaf waarmee dit gedoen kan word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






















