Local sportSchool sportSport

Menlo wen wéér, terwyl die rekords spat by Pretoria se skouspelagtige A-bond atletiek interhoër

Terwyl Hoërskool Menlopark hul 22ste agtereenvolgende oorwinning by Pretoria se A-bond atletiek interhoër behaal het, het dié byeenkoms gewys dat Pretoria se skole-atletiekspens oorloop van wêreldklastalent.

“Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfe…” Dié effens sieniese ou gesegde was beslis deeglik van toepassing tydens Vrydag se opwindende atletiek by die Pretoria A-bond interhoër, wat op die Pilditch baan in die weste van die stad plaasgevind het.

Met enkele uitsonderings laer af op die telbord, lyk die uitslag van dié prestigeryke atletiekbyeenkoms eintlik maar dieselfde as die afgelope vier jaar. Hoërskool Menlopark (2597.5 punte) is – vir die 22ste jaar agtereenvolgens – wéér die algehele kampioen, terwyl die seuns van Afrikaans Hoër Seunskool (Affies; 1366.5 punte) wéér die seuns-afdeling gewen het, met Menlo se meisies (1381.5 punte) wat Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP; 1259.5 punte) vir die vierde keer agtereenvolgens getroef het.

Die volledige uitslag van die spankompetisie lyk soos volg: Menlopark (2597.5); Hoërskool Waterkloof (2254.5); Hoërskool Zwartkop (2171); Midstream College (1878); Hoërskool Montana (1877); Hoërskool Garsfontein (1871.5); Hoërskool Oos-Moot (1540.5); Affies (1366.5) en AHMP (1259.5).

Midstream College, wat verlede jaar in die sesde plek geëindig het, is die enigste deelnemer wat opmerklik verbeter het, hoewel die stryd tussen hulle, Montana en Garsfontein só fel was, dat daar slegs sewe punte verskil tussen dié drie deelnemers is. Dit lyk egter of die Midstream span hulself nou behoorlik in die A-bond gevestig het.

In die afdelings vir seuns en meisies is daar effense skommeling. Soos genoem het Menlopark se meisies (1381.5) dié afdeling gewen, terwyl AHMP (1259.5) tweede geëindig het. Daarna volg die meisies-spanne van Waterkloof (1178); Zwartkop (1092); Montana (983); Midstream College (916.5); Garsfontein (907) en Oos-Moot (729.5).

Affies (1366.5) is in die seuns-afdeling gevolg deur Menlopark (1216);  Zwartkop (1079); Waterkloof (1076.5); Garsfontein (964.5); Midstream College (961.5); Montana (894) en Oos-Moot (811).

Hierdie uitslae beteken natuurlik dat Oos-Moot se wipplank-rit tussen die A- en B-bonde voortduur. Dié patroon duur al byna sewe jaar. ’n Mens wonder tog wat kan gebeur as die Oosies net daardie skoolbussies uit ander dele van die stad uit die Moot kan hou. Hulle kán dalk selfs ’n bedreiging vir die sterker skole wees…

Ten minste het die byeenkoms vir Oos-Moot op ’n hoogtepunt geëindig, toe hul seuns o.19 aflosspan stof in die oë geskop het van al hul meer gerekende teenstanders en daarmee gesorg het vir een van die groot verrassings van die dag. Kyk hier (https://fb.watch/qp8GP7dHa2/) na die video op die skool se facebook blad.

In elk geval, Oos-Moot sal volgende jaar plek moet maak vir Hoërskool Eldoraigne, wat Donderdag die B-bond gewen het.

Hoërskool Garsfontein was die gasheerkool by dié byeenkoms en die wyse waarop hulle dit gedoen het, verdien groot lof. Dis ’n reuse logistieke operasie, van die organisering op die baan self om die aksie vlot te laat verloop, tot die reuse taak om al hierdie makro-skole en hul toeskouers/ouers in Pretoria se somerhitte in die stadion te akkomodeer, te vermaak en te voed.

Dié byeenkoms bly spesiaal en staan in vele opsigte uit bo enigiets anders wat Pretorianers in die atletiek-seisoen kan beleef.

Soos ’n mens gewoond geraak het, was die aksie op die baan by die byeenkoms ook weer wêreldklas.

Met 27 A-bond rekords wat in die slag gebly het, was dit seker logies dat daar wel ’n paar werklik wêreldklas vertonings sou wees.  Enige vertoning wat meer as 950 (uit 1000) punte op Atletiek Suid-Afrika se ‘Athletics Performance Evaluation’ (APE) tabel werd is, word as wêreldklas beskou en ‘n junior atleet wat dít regkry, behoort op enige baan in die wêreld met sy eweknieë te kan kompeteer. Nie minder nie as 22 atlete het hierdie prestasie behaal, terwyl twee vertonings volpunte werd was.

Daar word beslis deesdae op skole-vlak baie meer aandag gegee aan velditems en dit was juis in twee veld-items waar die wenners 1000 APE punte verdien het.

Dewald Bezuidenhout van Affies het volpunte gekry vir sy wen-poging van 19,25m in die gewigstoot vir seuns o.15.   Hy het boonop die diskus item met ’n nuwe rekord afstand van 60,39m (963 APE punte) gewen en is aangewys as Junior Victor Lodorum van die byeenkoms.

Aiden Erasmus van Menlopark se rekord wen-afstand van 61,64m in die diskus vir seuns o.17 het ’n volle 1000 APE punte verdien, terwyl hy 910 APE punte vir sy 17,24m poging in die gewigstoot (tweede plek) gekry het. Hy is as Senior Victor Lodorum aangewys.

Die Junior Victrix Lodorum is Christi Loggenberg van AHMP. Sy het die 300m hekkies vir meisies o.15 met ’n rekord tyd van 41.91s (975 APE punte) gewen, terwyl haar tweede plek in die 90m hekkies item in 13,16s 929 APE punte werd is.

’n Ou bekende jong ster, Alicia Khunou van Menlopark, is aangewys as Senior Victrix Lodorum. Sy het twee A-bond rekords laat tuimel in die gewigstoot en diskus items. Haar afstand van 13,94m in die gewigstoot is 940 APE punte werd, terwyl sy 984 APE punte verdien het met haar poging van 48,52m in die diskus item.

Drie atlete het volpunte op die APE tabel net-net misgeloop. Menlopark se Janelle Kirkpatrick se rekord tyd (12.89s) in die 90m hekkies vir meisies o.14 is 996 punte werd.  Christé Loedolff het 998 punte verdien met haar afstand van 46,97 in die diskus vir meisies o.17 en Westley Badenhorst van Waterkloof se 56.50m in die diskus item vir seuns o.19 het 996 APE punte verdien.

https://fb.watch/qp8GP7dHa2/

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button