Local sportSchool sportSport

Gemengde welslae vir Pretorianers by “Super” interhoër

Verlede week se Noordwes Universiteit Interskole atletiekbyeenkomste, ook bekend as die Super-Interhoër, waaraan skole uit verskeie provinsies deelneem, het weer uitstaande prestasies opgelewer.

Helpmekaar Kollege van Johannesburg was verlede week wéér die pretbederwer vir sommige van Pretoria se beste atletiekskole tydens die top-liga van die Noordwes Universiteit Interskole byeenkomste, wat vir ’n tweede jaar agtereenvolgens op in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes aangebied is.

Gelukkig vir die Pretorianers het die twee gasheer skole, Afrikaans Hoërs Seunskool (418 punte) en die Afrikaanse Hoër Meisieskool (420 punte) weer die staatmakers onder die hoofstad se verteenwoordigers en hulle het albei redelik maklik hul onderskeie afdelings (seuns en meisies) in die top groep gewen.

In die spankompetisie het Helpmekaar (794 punte) egter ’n stewige oorwinning behaal, terwyl Hoërskool Waterkloof (695.5 punte) met die tweede plek tevrede moes wees.

Die Klofies is gevolg deur Hoërskool Noordheuwel (685) van die Wes-Rand, terwyl die ander Pretorianers, Hoërskool Zwartkop (594.5) en Hoërskool Garsfontein (526) onderskeidelik die vierde en vyfde plekke ingeneem het. Hoërskool Kemptonpark (502) was sesde, terwyl Potchefstroom Gimnasium (458) in hul eerste jaar in die top liga sewende geëindig het en dus weer sal terugskuif na Groep 2 van die dié kompetisie.

Potch Gimmies se bure van Hoërskool Klerksdorp (750 punte) het Groep 2 se kompetisie gewen en sal dus volgende jaar saam met die groot honde blaf.

Klerksdorp is gevolg deur Hoërskool Rustenburg (717); Hoërskool Nelspruit (684.5); Hoërskool Transvalia (680); Hoërskool Monument (645); Hoërskool Randburg (578); Hoërskool Oos-Moot (551.5) en Pretige College van Hammanskraal (462).

Altesaam 13 byeenkomsrekords (tien in Groep 1 en drie in Groep 2) is by hierdie byeenkoms op ’n baie warm somersdag in Pretoria verbeter.

Slegs twee atlete kon daarin slaag om volpunte (1000 punte) op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel te verdien.

Kiarah Dell van Zwartkop (Groep 1) het dié prestasie behaal toe sy die 90m hekkies item vir meisies o.14 in ’n rekord-tyd van 12,86s afgeblits het.

Die ander atleet wat volpunte kon behaal, was Hanco van Geelen van Monument. Hy het die gewigstoot vir seuns o.15 met ’n reuse afstand van 19,13m gewen.

Altesaam 17 atlete (12 in Groep 1 en 5 in Groep 2) het tydens die byeenkoms volpunte net-net misgeloop, toe hulle tussen 950 en 1000 punte in sekere items verdien het.

In die middel-afstand wedlope het twee van die Pretoria A-bond sterre, Minke Dekker van Zwartkop en Emil Els van Affies wéér die rekords laat tuimel.

Els was verantwoordelik vir twee nuwe rekords vir seuns o.15, toe hy die 800m in ’n tyd van 1:54,56min gewen het en daarna nog genoeg brandstof in die tenk oorgehou het om ook die 1500m in ’n rekordtyd van 04:00,49min (970 APE punte) te wen.

Dekker het die rekord in die 1500m vir meisies o.15 na 04:29.77min verbeter, terwyl sy ook die 800m in ’n tyd van 02:12,39min (956 APE punte) gewen het.

Waterkloof se Wesley Badenhorst (o.19) het in die diskus item baie naby aan volunte gekom, toe hy dié item met ’n afstand van 56,39m (993 APE punte) gewen het.

Die meeste van hierdie top atlete sal nou begin voorberei vir die provinsiale- en nasionale junior kampioenskappe, wat later vandeesmaand plaasvind.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button