Local sportSchool sportSport

Menlopark atletiekster herskryf die rekordboeke

Sy breek rekords by byna elke byeenkoms waaraan sy deelneem sedert haar o.16 dae en atletiek-kenners is dit eens dat Hoërskool Menlopark se Alicia Khunou ‘n internasionale ster in wording is.

Alicia Khunou, atletiekster van Hoërskool Menlopark, word eers volgende maand 18, maar dié jong veldatleet se naam is reeds wêreldwys in atletiek-annale opgeteken.

Hierdie vriendelike matrikulant is immers ’n dubbele Statebond jeugkampioen en vroeër vanjaar is sy deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) aangewys  as hul mees belowende jong talent.

Khunou steur haar egter min aan al die lofsange. Al wat sy wil doen is deelneem en om so veel as moontlik rekords agter haar naam te skryf, terwyl sy natuurlik ook langtermyn drome het. Soos ’n Olimpiese medalje of twee iewers in die toekoms.

Sy het vroeër vanjaar net-net die junior Suid-Afrikaanse rekord in die diskus item misgeloop tydens die Curro Podium eindbyeenkoms toe sy die werpskyf  53.45m ver geslinger het. Enkele weke later het sy egter die o.20 Afrika rekord agter haar naam geskryf toe sy op haar tuisbaan by Menlopark ’n afstand van 53,82m in die diskus behaal het.

Nadat sy by die Curro Podium byeenkoms in die gewigstoot item met ’n persoonlike beste van 15.13m kon spog, het sy dit verlede week by ASA se eerste Grand Prix byeeoms tot 15,19m verbeter.

Na die eerbewys deur ASA, was Khunou in ekstase.

“Ek het ’n week voor die toekenningsaand ’n epos ontvang, maar ek het nie die toekenning verwag nie. Ek het geweet ek is ’n finalis, maar die toekenning was steeds ’n reuse verrassing,” het sy met ’n groot glimlag vertel.

Alicia Khunou het verlede jaar twee goue medaljes vir Suid-Afrika gewen by die Statebond Jeugspele in Trinidad en Tobago.
Foto: Verskaf

Tydens verlede jaar se Statebond Spele, het sy ’n nuwe byeenkomsrekord opgestel toe sy as o.17 atleet die 3kg gewig 17.97m ver gestoot het.

Daarna het sy ook die diskus titel gewen met haar afstand van 49,53m.

“Ek was oorweldig. Die tipe druk is net anders as in Suid-Afrika. Jy weet nie wat om te verwag nie,” het sy gesê oor haar prestasies in Trinidad en Tobago.

Khunou is gek oor albei items en wil nie eintlik ’n gunsteling kies tussen die twee nie.

Die Khunou gesin is baie geheg aan mekaar en die atletiekbloed loop deur hul are. Ma Madeleine is al van jongs af die streng afrigter agter Alicia  en haar tweeling broer, Thato. Sy beskou haar ma as baie meer as net ’n afrigter.

“Sy is my rots,” het Khunou onomwonde verklaar.

Die gesin is oorspronlik van Bronkhorstspruit, waar hul atletiek avontuur begin het met ’n gewigstoot sirkel in die agterplaas. Dis hier waar Madeleine vir Alicia, Thato en ousus Lesedi, wat deesdae in Amerika studeer en aan atletiek deelneem, die fyner kunsies van die sport geleer het.

Khunou glo dat sy vanjaar nog in albei items kan verbeter en mik na rekords by die komende SA kampioenskap of selfs die junior wêreldkampioenskap, wat later vanjaar in Peru, in Suid-Amerika, sal plaasvind.

Anders as haar suster, wil Alicia in Suid-Afrika in die regte studeer en haar kop staan Kaapstad se kant toe, waar sy volgende jaar ’n Ikey wil word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button