Local sportSchool sportSport

AGN oorheers SA Junior Atletiekkampioenskappe

Pretoria se atlete het verlede week by die Suid-Afrikaanse Junior Atletiekkampioenskappe weer in die kleure van Atletiek Gauteng-Noord die podium plekke oorheers en 144 medaljes vir hul provinsie ingepalm.

Atletiek Gauteng-Noord (AGN) is steeds Suid-Afrika se leidende atletiek provinsie en as die SA Junior Atletiekkampioenskappe (o.16; o18; o.20 en o.23), wat verlede week in die Pilditch Stadion in die weste van Pretoria aangebied is, enige aanduiding moet wees, sal hierdie heerskppy nog lank duur.

Die atlete van AGN wat aan hierdie byeenkoms deelgeneem het, het in totaal meer as dubbel soveel medaljes gewen as hul naaste teenstander van die Sentraal-Gauteng provinsie.

AGN atlete het 144 medaljes (52 goud, 49 silwer en 43 brons) tydens die kampioenskappe, wat oor drie dae aangebied is, ingepalm. Daarenteen was Sentraal-Gauteng se oes slegs 67 medaljes (22 goud, 23 silwer en 22 brons), terwyl Sentraal-Noordwes die derde plek ingeneem het met 50 medaljes (17 goud, 16 silwer en 17 brons).

Dié drie provinsies is gevolg deur Boland (47 medaljes), Vrystaat (44 medaljes); Westelike Provinsie (16 medaljes); Oostelike Provinsie en Mpumalanga (13 medaljes elk); Natal en Suidwestelike Distrikte (11 medaljes elk); Vaaldriehoek (8 medaljes); Limpopo (6 medaljes); Noordwes-Noord (4 medaljes); Grens (2 medaljes) en Griekwaland-Wes (1 medalje).

Sewe nasionale rekords het tydens die byeenkoms in die slag gebly. Hiervan is twee deur atlete van AGN verbeter.

Mean Nieman, ’n leerling van Hoërskool Menlopark, het die 21-jaar oue rekord (12,64s) in die 90m hekkies vir meisies o.16 na 12,44s verbeter. Sy het ook volpunte (1000) op ASA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel vir haar wenpoging verdien. Dié rekord het sedert 2003 gestaan.

Nog ’n Menlopark atleet, Joshua Gerber, het die rekord in die diskus item vir seuns o.16 oortref met sy poging van 69,40m. Dit was ook 1000 APE punte werd.

’n Ander plaaslike ster wat uitsonderlik presteer het by die kampioenskap, is Bayanda Walaza, ’n leerling van Curro Hazeldean. Dié 18-jarige seun het die 100m (10,13s en 985 APE punte) en 200m (20,34s en 980 APE punte) in die o.20 kategorie gewen en daarmee gekwalifiseer om Suid-Afrika later vanjaar by die o.20 wêreldkampioenskap te verteenwoordig.

Suid-Afrika sal na aanleiding van die prestasies by hierdie nasionale junior kampioenskap vanjaar ’n baie sterk span na dié wêreld o.20 kampioenskap, wat in Augustus in Lima, Peru (Suid-Amerika) aangebied word, kan stuur. Sowat 70 atlete het vir dié kampioenskap gekwalifiseer, waarvan sommige in meer as een item. Meer as ’n derde van die kwalifiseerders was atlete van AGN.

Twaalf ander AGN atlete, almal nog op skool, het tydens die kampioenskap prestasies behaal wat 1000 punte op die APE tabel werd is. Hulle is Christi Loggenberg (Afrikaanse Hoër Meisieskool) met haar 54.40s in die 400m vir meisies o.16; Rachel Schwulst (Hoërskool Menlopark) met haar 2:07,47min in die 800m vir meisies o.18; Izandri Jacobs (Hoërskool Montana) 2;05,71min in die 800m vroue o.20 (hoewel sy eers in Desember 18 word); Tumi Ramokgopa (Prestige College) vir haar 57,78s in de 400m hekkies vir meisies o.18; Dewald Bezuidenhout (Affies) vir sy 18,64m in die gewigstoot vir seus o.16; Njabulo Mbatha (Tuks Sportskool) vir sy 49,10s in die 400 hekkies vir seuns o.18; Matthew Endrody (Affies) vir sy 03:47,34min in die 1500m vir mans o.20; Chirste Loedolff (Hoërskool Menlopark) vir haar 47,39m in die diskus vir meisies o.18; Wesley Badenhorst (Hoërskool Waterkloof) vir sy 58,33m in die diskus vir mans o.20; Alicia Khunou (Hoërskool Menlopark) vir haar 58,33m in die diskus vir vroue o.20 en Martelize Barnard (AHMP) vir haar 54,10m in die spiesgooi vir meisies o.18.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button