Local sportSchool sportSport

Slegs drie oorwinnings vir Pretorianers by Noord-Suid skolerugbytoernooi

Die deelnemende skole van Pretoria kon slegs drie oorwinnngs in tien wedstryde behaal by verlede week se Noord-Suid skolerugby toernooi, wat op die sportvelde van die Afrikaanse Hoër Seunskool aangebied is.

Die tiende Noord-Suid skolerugby toernooi is verlede week op die sportvelde van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) aangebied.

Na ’n kleinerige begin in 2014 het dié toernooi, wat destyds deur manne soos die voormalige Springbok vleuel en Bloubul hulpafrigter, Pieter Rossouw, asook die voormalige Bulls spanbestuurder, Wynie Strydom, in die lewe geroep is, gegroei tot een van die prestigerykste skolerugby toernooie in die land.

Die room van die Wes-Kaap se rugbyspelende skole, asook Grey Kollege van Bloemfontein, wat waarskynlik die land se heel beste rugbyskool is, het weer Pretoria toe gereis om teen die bestes van Gauteng en Mpumalanga te kompeteer.

Voortrekker Hoërskool uit Bethlehem in die Oos-Vrystaat, Welkom Gimnasium uit die Noord-Vrystaat en Hoërskool Duineveld uit Upington in die Noord-Kaap was ook weer deel van die aksie.

Dié toernooi is bekend vir die verrassings wat jaarliks opgelewer word, wanneer een van die bekende sterk rugbyskole onverwags ’n nederlaag ly of wanneer groot tellings teen ’n gunsteling aangeteken word. Maar vanjaar se skok-uitslag, toe die Engelse seunskool van Johannesburg, Jeppe High, die magtige Grey Kollege op dag drie van dié vierdag-toernooi met 22-19 verras het, het gesorg vir waarskynlik die grootste opskudding tot nog toe in die geskiedenis van die Noord-Suid toernooi.

Altesaam 48 wedstryde is oor die vier dae van die toernooi gespeel, nadat sommige van die skole se tweedespanne ook weer speelkans gekry het as deel van die program.  In hierdie 48 wedstryde is 334 drieë gedruk, wat ’n gemmiddeld van byna sewe drieë per wedstryd verteenwoordig. Dit bewys dat opwindende hardlooprugby aan die orde van die dag was.

Wat die plaaslike Pretoria-skole se prestasie betref, was daar weer minder sukses as glorie. Elke skool het twee wedstryde gespeel tydens die vier dae wat die toernooi geduur het. Ongelukkig kon geen van die vyf deelnemers uit Pretoria volpunte (twee oorwinnings) behaal nie. Drie van hulle, Affies, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark het een wedstryd gewen en een verloor, terwyl Pretoria Boys High en Hoërskool Garsfontein albei twee keer verloor het.

Affies het op dag twee in ’n aanskoulike wedstryd met 25-30 teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch vasgeval, maar daarna op die laaste dag kookwater rugby gespeel om Hoërskool Stellenberg van Bellville in Kaapstad met 38-11 te klop.

Pretoria Boys High het geen gelukkige toernooi beleef nie en twee nederlae gely. Eers het Hoërskool Outeniqua van George hulle met 24-12 geklop, waarna hulle op dag vier die grootste pakslae van die toernooi op die lyf geloop het, toe Paarl Gimnasium hulle met 66-10 kafgedraf het.

Waterkloof het op dag twee met Hoërskool Durbanville (27-19) afgereken, maar op dag vier moes hulle, soos Affies, die knie buig voor Paul Roos se aanslag. Die telling was 47-24 in die seuns van Stellenbosch se guns.

Ondersteuners van Menlopark sal verheug wees om te sien dat hulle teruggebons het ná verlede jaar se ramp-seisoen. Die Parkies het ’n indrukwekkende vertoning op dag twee gelewer toe hulle Duineveld van Upington met 50-28 verniel het. Op die laaste dag het hulle egter met 17-37 teen  Hoërskool Outeniqua van George verloor.

Ná verlede jaar se groot hoogtes was Hoërskool Garsfontein waarskynlik die teleurstelling van die toernooi. Hulle het op dag een in ’n taai stryd met 17-24 teen Oakdale Landbouskool van Riversdal verloor, waarna hulle op dag drie ook die knie moes buig (36-38) teen Hoër Jongenskool Paarl (in die volksmond ook bekend as Paarl Boys High).

Die Garsies was egter in albei wedstryde weens ongedwone foute vir hul eie ondergang verantwoordelik en hulle kon beslis altwee die kragmetings gewen het. Dié span het genoeg talent om terug te bons en hul seisoen om te draai en dit sal dwaas wees om hulle nou reeds af te skryf. Hul kry reeds eerskomende Saterdag (6 April) die geleentheid om die byna ondenkbare reg te kry wanneer hulle op hul tuisveld (Berepark) teen Affies te staan kom.

Die Garsie Bere het Affies die afgelope twee seisoene (2022 en 2023) geklop en met ’n derde agtereenvolgende oorwinning teen dié gedugte teenstander sal Garsfontein iets vermag wat bittermin ander skole ooit voorheen kon regkry.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button