Local sportSchool sportSport

Durf en skopwerk red Affies se eer teen Garsfontein

Met opwindende hardlooprugby vroeg in die wedstryd en vasbyt verdediging in die laaste twintig minute het die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) daarin geslaag om Hoërskool Garsfontein se droom van ’n derde agtereenvolgende oorwinning oor hulle te verhoed.

Dis nie aldag dat skolerugby die professionele manne die loef afsteek nie. Tog het daar Saterdag waarskynlik meer toeskouers by die Hoërskool Garsfontein opgedaag vir die groot Pretoria skole-derby tussen die tuisskool en Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), as die 7200 mense wat ’n paar kilometer daarvandaan op Loftus Versfeld vergader het om te sien hoe die Bulls die Franse klubspan Lyon gaffel.

Dít spreek boekdele vir die standaard en gewildheid van skolerugby en dis ongetwyfeld die rede waarom Suid-Afrika steeds so ’n groot faktor in wêreldrugby bly.

Hoewel hierdie derby ’n vriendskaplike wedstryd was, was daar vir beide spanne baie op die spel. Garsfontein kon hulle by ’n uitgelese groep skole aansluit wat die afgelope eeu daarin kon slaag om Affies drie keer agtereenvolgens te klop, terwyl laasgenoemde se trots en eer op die spel was en hulle dié moontlikheid ten alle koste wou verhoed.

James Schnetler, slot van Garsfontein, bemeester ‘’n bal afskop-bal, terwyl hy ondersteun word deur loskopstut, Ethan van Wyk.
Foto: Frans Lombard

Hierdie scenario het die tafel gedek vir ’n skole-rugby wedstryd wat die toeskouers op Berepark terselfdertyd senuagtig én opgewonde gemaak het.

Nadat losskakel Ruben Pienaar Affies se rekening reeds in die sesde minuut geopen het met sy eerste van drie strafdoele, het hul buitesenter Nicolas Grobler tien minute later die eerste speler geword om die doellyn oor te steek ná goeie werk deur regtervleuel Rikus Strydom.

Die tuisspan het byna onmiddelik na die afskop teruggeslaan en gevorder tot in die linker hoek, waar hulle oorgedryf het. Loskopstut, Ethan van Wyk, was die man wat laaste met die bal in hand opgestaan het.

Foto: Frans Lombard

Ná nog ’n straffoel deur Pienaar het Garsfontein vir die eerste keer die voortou geneem toe linkervleuel Junaide Stuart ’n slim skoppie van sy skrumskakel bemeester het om in die hoek oor te duik.

Volgende aan die beurt was Affies se linkervleuel, Eagan Roux, wat uit ’n skrumskakel posisie die bal agter ’n losgemaal opgepik het om oor te duik.

Na rustyd het die besoekers dadelik weer die tempo van die wedstryd opgejaag en binne drie fases na die afskop is die bal vinnig na regs gespeel, waar Strydom genoeg spasie gehad het om in die hoek oor te gaan. Met die telling op 28-12 het dinge beroerd gelyk vir die Garsie Bere.

Foto: Frans Lombard

’n Breekslag deur Garsfontein se heelagter en ’n daaropvolgende kraglopie deur flank Stephan Pretorius, het uitgeloop op laasgemoemde se drie, wat die Garsies se terugvegpoging ingelui het.

Die plaasvervanger losvoorspeler, Stefan McDonald, het Affies se vierde en laaste drie reeds in die 48ste minuut van die wedstryd gedruk ná ’n spoggerige handrug uitgee van agtsteman Robin Lippold. Daarna moes Garises ’n 16-punte agterstand in sowat 26 minute uitwis as hulle wou wen.

Hierin het hulle so byna geslaag toe hul pak voorspelers momentum begin kry het en soms meters ver met die Affie-manne geploeg het. Na twee skitter-drieë deur Stuart en skrumskakel Brooklyn Newman én ’n geelkaart aan Affies se plaasvervanger haker, was die spanning in laaste twee minute van die wedstryd by breekpunt.

Foto: Frans Lombard

’n Breekslag van senter Ruan Enslin het so byna die Affies se harte in die doodsnikke gebreek, maar desperate verdediging deur Lippold het dit verhoed.

Uiteindelik was daar bittermin te kies tussen die twee spogspanne. Garsfontein was baas in die vaste skrums, maar Affies het dié feit slim omseil deur die bal vinnig skoon te maak. Dit was skolerugby uit die boeke – opwindend, maar hard en genadeloos, terwyl die tempo deurgaans hoog was.

Die Garsie Bere sal kan spog dat hulle vyf drieë gedruk het teenoor die vier van hul teensstanders, maar Pienaar het met sy meer akkurate skopwerk gewys dat dié aspek deurslaggewend is in taai wedstryde soos hierdie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button