Local sportSchool sportSport

Waterkloof en Menlopark een oorwinning weg van NWU Sportreeks eindstryd

Na hul oorwinning oor die Hoërskool Transvalia die afgelope naweek, is Hoërskool Waterkloof een oorwinning weg van kwalifikasie vir die eindstryd in die nuwe NWU Sportreeks, waaraan ’n hele paar spogskole deelneem, terwyl die kans goed is dat hulle Hoërskool Menlopark in dié stryd kan ontmoet.

Ná hul oorwinning van 30-19 oor die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark, staan Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan al met hul een voet in die eindstryd van die NWU Sportreeks.

Al wat die Klofies te doen staan om vir die eindstryd te kwalifiseer, is om eerskomende naweek hul laaste ligabepaling te wen.

Waterkloof het die wedstryd teen Transvalia op ’n stywe pas begin en binne twee minute was skrumskakel Migael Prinsloo oor die doellyn, ná ’n skitterende breekslag deur hul ramkat agtsteman, Marko Kok.

Transvalia het tot dusver vanjaar gesukkel met drie agtereenvolgende nederlae in die reeks en op daardie stadium was die verwagting waarskynlik dat die Klofies ’n reuse oorwinning sou behaal, veral toe linkervleuel, Dennis Obi, twee minute later na nóg goeie spel van die tuisspan weer gaan druk het.

Daarna het die manne van die Vaaldriehoek egter begin terugveg en veral voorlangs die pap dik aangemaak, terwyl hul skrumskakel, Arno Nagel, die Klofie verdedigers behoorlik besig gehou het.

Nadat Waterkloof se heelagter, Ronan Bastiaanse, met twee doelskoppe misluk het, het die besoekers se losskakel, Dylan Steynman, twee keer geslaag met strafdoele om die rustydtelling op 10-6 te staan te bring.

Hoewel die tweede helfte stadiger begin het, was daar gou meer aksie toe die Cravenweek speler, Happy Makate, van die bank af sy verskyning vir die Klofies gemaak het. Sy innoverende spel het tot Obi se tweede drie gelei.

Die tuisspan het ook voorlangs, veral in die vaste skrums, begin oorheers en sodoende druk op Transvalia verhoog. Dit het indirek tot hul bonuspunt drie deur senter, Riwan van Aswegen, gelei.

Drie verbroude doelskoppe en swak verdediging wat tien minute voor die einde van die wedstryd tot Transvalia se enigste drie gelei het, het die Klofies onnodig onder druk gesit, maar goeie samewerking tussen Makate en Van Aswegen het laasgenoemde in staat gestel om sy tweede drie te druk en die oorwinning te verseël.

– Daar is ’n moontlikheid dat die buurskole uit die ooste van Pretoria, Waterkloof en Hoërskool Menlopark, mekaar op 20 April in die eindstryd van die NWU Sportreeks kan ontmoet.

Al wat moet gebeur om hierdie tweestryd te bewerkstellig, is dat dié twee spanne eerskomende naweek albei hul laaste ligabepalings moet wen.

Menlopark, wat die afgelope naweek ’n ruskans geniet het, speel eerskomende naweek in hul laaste ligabepaling teen Hoërskool Nelspruit, wat self nog ’n buitekans het om vir die eindstryd te kwalifiseer. Dit sal dus ’n taai stryd wees, maar met die Parkies se vertonings tot dusver vanjaar in ag genome, behoort hulle die gunsteling te wees.

Waterkloof, wat ook tot onoorwonne in die toernooi is, het ’n harde neut om te kraak wanneer hulle Hoërskool Dr. EG Jansen in ’n weg wedstryd in Boksburg aandurf. Hierdie wedstryd sal die wenner van Groep 2 in die reeks bepaal.

EG Jansen is tot dusver vanjaar onoorwonne na agt wedstryde. Daarenteen het die Klofies nog net een keer – by die Noord-Suid toernooi teen Paul Roos Gimnasium, een van die reuse in skolerugby – verloor.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button