Local sportSchool sportSport

Dis Waterkloof teen Menlopark in NWU Sportreeks eindstryd

Twee plaaslike Hoërskole, Waterkloof en Menlopark, se eerste rugbyspanne pak mekaar eerskomende Saterdag op die sportterrein van Hoërskool Eldoraigne in Centurion in die eindstryd om die kampioen in die NWU Sportreeks te bepaal.

Die kampioen van die 2024 NWU Sportreeks sal ’n skool uit die ooste van Pretoria wees.

Hierdie feit is bepaal toe beide Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark die afgelope naweek in moeilike wedstryde weg van die huis hul liga bepalings onoorwonne afgesluit het en sodoende albei eerste in hul onderskeie groepe van hierdie toernooi geëindig het.

Al tien die deelnemende skole sal eerskomende Saterdag op die sportterrein van Hoërskool Eldoraigne in aksie wees in die uitspeelwedstryde om die finale stand van sake. Die Klofies en Parkies sal uitspeel om die kampioen en naaswenner te bepaal, terwyl die res vir die derde tot tiende plekke sal meeding in die orde waarin hulle op die punteleer van die twee groepe geëindig het.

– Waterkloof het waarskynlik vir die grootste opskudding van die naweek gesorg toe hulle Hoërskool Dr. EG Jansen op hul tuisveld in Boksburg met 45-38 geklop het. Daarmee het hulle die Oosranders se indrukwekkende segetog van agt agtereenvolgende oorwinnings sedert die begin van die seisoen beëindig.

Waterkloof se grondslag is beslis weer deur hul gevaarlike pak voorspelers gelê en hul goeie skrumwerk het die EG Jansen manne telkens onder groot druk gehad.

Die Klofies het eerste bloed geruik toe skrumskakel Migael Prinsloo na net drie minute se spel sy eerste van twee drieë gaan druk het. Daarna het hulle regdeur voorgeloop, totdat EG Jansen hulle kort voor die einde ingehaal en die telling vir ’n spanningsvolle 13 minute gelykop was voor die wendrie ná die laaste toeter gedruk is.

Prinsloo se tweede het gekom na samespel met agsteman, Marko Kok, by ’n skrum vyf tree van die doellyn.

Toe heelagter Ronan Bastiaanse na ’n kwartier ’n losbal oppik en 50 meter nael vir die besoekers se derde drie, was die Oosranders se fondament geskud en hulle moes begin om die telbord te jaag. Sake het vererger toe Waterkloof se bonuspunt drie tien minute voor halftyd reeds deur flank Divan Botha gedruk is nadat hy ’n skop van die tuisspan se losskakel afgestorm het.

EG Jansen se eerste punte het eers na ’n halfuur se spel gekom toe ’n glips in die middelveld die Klofies duur te staan gekom het met ’n langafstand drie vir hul teenstanders. Minute later het Happy Makate egter dieselfde gedoen en die punteverskil was weer 28.

Kort voor rustyd het EG Jansen van ’n lynstaan naby die doellyn oorgedryf om die rustyd telling op 35-14 in die Klofies se guns te laat staan.

Die tuisspan het sommer dadelik na rustyd hul groot terugvegpoging begin met ’n slim uitgewerkte beweging wat hul derde drie opgelewer het.

Nóg ’n langafstand drie, die keer na ’n onderskep-poging, het die tuisspan binne trefafstand van Kofies se telling gebring.

Aksie uit die wedstryd tussen Menlopark en Nelspruit in die Laeveld.
Foto: Lizha van Rensburg

Halfpad deur die tweede helfte het EG Jansen die Klofies ingehaal toe hulle vanaf ’n lynstaan spasie gevind en gaan druk het. Skielik het ’n spannende einde gerealiseer en nie een van die spanne kon foute bekostig nie.

Met ’n strafdoel deur losskakel Franco Naudé het die Klofies weer hul neuse voor gekry, maar die Jansies het byna onmiddelik daarna weer die skaal gelyk getrek met ’n strafdoel van hul eie.

Uiteindelik was dit Klofies se senter en kaptein, Riwan van Aswegen wat met ’n kombinasie van krag en spoed ’n paar verdedigers geklop het om vanaf eerstefase-besit die wendrie met ’n lopie van 50m te druk.

– Menlopark, wat tot dusver vanjaar ’n puik seisoen beleef, het Laeveld toe gereis om Hoërskool Nelspruit op hul tuisveld met 31-14 pak te gee.

Die Parkies het die wedstryd teen ’n reuse tempo begin en dit was gou duidelik dat hulle Laeveld toe gekom het om drieë te druk. Heelagter Divan Nel is na net ses minute se spel eerste oor die doellyn, na ’n teenaanval wat in hul eie gebied begin het. Dit sou die eerste van sy driekuns in die wedstryd wees.

’n Paar minute later het Menlo se binnesenter ’n losbal opgepik en vyftig meter genael om onder die pale te druk.

Nelspruit eerste punte het gekom toe hul haastige linkervleuel, Tinyiko Silubane, sy direkte teenstander met spoed geklop het.

Swak verdediging deur Nelspruit het aan Menlo se heelagter, Divan Nel, kans gegee om met ’n pypkan lopie van die halflyn af deur te hardloop, wat die halftyd telling op 19-7 te staan gebring.

Kort na rustyd het Menlopark weer gaan druk en met Nelspruit wat drie keer moes punte aanteken om te wen, was dit duidelik dat die tuisspan ’n haas of twee uit die hoed sou moes trek om die wedstryd te probeer wen.

’n Kragdrie deur Nelspruit se agtsteman, Vaughn van Zyl, vanaf ’n vyftree skrum het die Laevelders moed gegee.

Menlopark het egter balbesit en speelgebied oorheers in die laaste kwartier van die wedstryd en ten spyte van dapper teenstand van die tuisspan, kon hulle nog een keer gaan druk voor die eindfluitjie, toe Nel sy driekuns voltooi het.

– Ander plaaslike skole uit Pretoria wat Saterdag tydens die uitspeelwedstryde van die NWU Sportreeks in aksie sal wees, is Hoërskool Oos-Moot en Hoërskool Eldoraigne. Eersgenoemde sal teen EG Jansen uitspeel om die tweede- en derde plekke in die reeks, terwyl Eldoraigne en Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark mekaar sal pak om die negende en tiende plekke te bepaal en dus die houtlepel in die toernooi te vermy.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button